SA Rugby het Saterdag in ‘n verklaring bevestig dat dit bewus is van ongegronde bewerings van mislukte dwelmtoetse deur Springbok-spelers wat in die media die rondte doen.
“Teleurstellend genoeg het hierdie bewerings reeds aanlyn verskyn ten spyte van die afwesigheid van enige bewyse om dit te ondersteun.
“SA Rugby het deurgaans alle navraende media in kennis gestel dat geen sulke verslae deur SA Rugby of enige speler van die enigste owerheid wat toegelaat is om sulke toetse uit te voer, die Suid-Afrikaanse Instituut vir Dwelmvrye Sport, ontvang is nie. SA Rugby doen nie sy eie toetse nie.
“Ten spyte van die afwesigheid van enige sulke verslae, is spelers en bestuur in Argentinië gekontak om “hul storie te vertel”, wat die hele kamp se aandag afgelei het in Saterdag se toets teen Argentinië in Buenos Aires.”
Die Bokke het egter steeds daarin geslaag om die Rugbykampioenskap-toets teen Argentinië te wen.
“SA Rugby wil herhaal dat hy geen bewyse het van enige nadelige analitiese bevindings vir enige soort dwelm – hetsy prestasieverbetering of ontspanning – deur Springbok-spelers nie en beskou die publikasie of die dreigement om sulke bewerings te publiseer as ‘n doelbewuste poging tot sabotasie.”
Saterdag is ‘n berig op SARugbymag gepubliseer wat sê dat Rapport glo werk aan ‘n storie wat beweer dat verskeie Springbokke positief vir kokaïen getoets het.
Intussen het bronne aan SARugbymag bevestig dat SA Rugby met ‘n hofinterdik wou keer dat die storie gepubliseer word wat glo geen grondslag het nie.
Geen berig oor die voorval is vanoggend in Rapport gepubliseer nie.