Elton Jantjies, die Springbok-losskakel, het Vrydag gesê dat hy ten volle Rassie Erasmus, direkteur van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru), se besluit ondersteun dat hy nie saam met die Springbokgroep in November na Europa sal reis vir die Europese toer nie.
Zeenat Simjee, die span se dieetkundige, sal wel op toer gaan.
“Gegewe die wye beriggewing oor my weglating uit die Springbok-groep en verduideliking van die afrigtingspan dat ek nie vir die November-toer gekies was nie, wil ek dit graag op rekord plaas dat ek die besluit ten volle verstaan en ondersteun,” sê Jantjies in ’n verklaring.
“Die feit van die saak is dat ek sedert die Castle Lager Rugbykampioenskap nie rugby gespeel het nie en dat ek die laaste paar weke by my openbare en persoonlike belofte gehou het om professionele hulp te soek en op my geestesgesondheid te fokus en om te verseker dat ek my persoonlike lewe en loopbaan weer op koers kry. Dit was die beste besluit wat ek nog ooit geneem het,” sê Jantjies.
Jantjies sê hy het deurgaans geoefen en dat hy geestelik en fisies op ’n goeie plek is.
“Ek het fantastiese ondersteuning ontvang van ’n terapeutiese span met wie ek nou saamgewerk het om te verseker dat my persoonlike welsyn my topfokus en prioriteit bly, en ek weet dit sal harde werk en ’n groot poging verg om op hierdie pad te bly.
“Ek is egter ten volle toegewyd en hoop om terug te keer na die rugbyveld as ’n beter man en speler.
“Ek twyfel nie dat hierdie besluit my persoonlik, my rugbyloopbaan, my familie en Suid-Afrika se getroue rugbyondersteuners sal bevoordeel nie.”