Altesaam 28 gimnaste van die Rhythmia-gimnastiekklub het die Noord-Kaap by die Suid-Afrikaanse Gimnastiekspele verteenwoordig.
Dié spele het vanaf 30 September tot 5 Oktober in Pretoria by die Rembrandtsaal van Tukkies plaasgevind.
Tazmiah Francis, spanafrigter, sê Rhythmia het met ’n totaal van 23 medaljes teruggekeer en die Noord-Kaap trots gemaak. “Die kompetisie het begin met SA se top- hoëprestasie gimnaste, van wie Rhythmia 10 afrig. Die medaljes wat verower is, het die algehele- en apparaatmedaljes ingesluit.”
Carrissa Crowder (8), van Laerskool Vooruitsig en ’n HP1-gimnas, het goud vir vrye dans ontvang en silwer vir balwerk. Sy het ook ’n silwer medalje algeheel verower.
Amy Lynch (10), van Laerskool West-End en ’n HP3-gimnas, het algeheel derde plek behaal, asook derde plek vir vrydans, touwerk en clubs. Ruby Richards (10) van CBC St. Patricks en die Suid-Afrikaanse kampioen in HP3, het goud ontvang. Sy het ook goud vir vrydans en stokke ontvang, asook silwer vir tou.
Zsa-Rae Valle (12), van Laerskool Newton en ’n pre-junior gimnas, het die algehele brons medalje vir juniors verower, asook brons vir lintwerk en silwer vir clubs.
Thato Modise (12), pre-junior, van die Laerskool Newton het ’n brons medalje vir vrydans ontvang.
In die junior afdeling het Tricha Richards (13) van CBC St. Patricks, algeheel vierde gekom en die silwer medalje vir hoepel en brons vir klub- en lintwerk, ontvang.
Tricha Richards, Vuyiswa Dikgetsi (14), van CBC St. Patrick’s en Santiago Jocker (14), Hoërskool Noord-Kaap, junior Olimpiese gimnaste, het almal gekwalifiseer om deel te neem aan die finale afdeling vir dag twee. Tricha het ook vroeër vanjaar aan die Afrika-kampioenskap in Kaïro, Egipte, deelgeneem.
In die vlak 6-afdeling het Tlotlo Nkokoa (16), CBC St. Patrick’s, ’n brons medalje vir vrydans ontvang. Karli de Klerk (10), Laerskool Eureka, is die SA-kampioen vir vlak 8 en het goud vir al haar roetines, asook die algehele goue medalje, ontvang. Thepiso Dikgetsi (17), van CBC St. Patrick’s, het ’n brons medalje vir haar hoepelroetine ontvang.
Floors-gimnastiekklub het ook by die span van die Noord-Kaap aangesluit om aan die spele deel te neem.
Tazmiah Francis van Rhythmia het as een van die beoordelaars opgetree.
Baie geluk aan al die wenners!
Ruby en Karli met hulle medaljes. Albei is SA-kampioene in hulle onderskeie afdelings.
Bron: FiND iT