Die Springbok-losskakel Elton Jantjies het hom glo by ’n dwelmrehabilitasiesentrum in Kaapstad ingeboek in ’n poging om “as ’n beter man en speler na die veld terug te keer”.
Volgens City Press het Jantjies, terwyl hy in ’n gastehuis saam met die dieetkundige Zeenat Simjee in Mbombela gebly het voor die Bok-toets teen die All Blacks in Augustus, dwelms aan ’n kelner aangebied.
City Press is deur twee onafhanklike bronne ingelig dat Jantjies hom ’n paar weke gelede by die Harmony-kliniek in Houtbaai ingeboek het en vir dwelmverslawing behandel is.
SA Rugby het geweier om kommentaar te lewer.
Zeena Isaacs-Van Tonder, woordvoerder van die Springbokke, het Sondag by navraag aan AfriNUUS gesê dat hulle ingevolge die POPIA-wetgewing nie kommentaar oor die aangeleentheid kan lewer nie.
“SA Rugby wil glad nie kommentaar lewer oor hierdie aangeleentheid nie, aangesien dit teen die POPIA-wet is dat SA Rugby kommentaar lewer oor enige private aangeleenthede wat met spelers verband hou,” sê Isaacs-Van Tonder.