Clayson Monyela, woordvoerder van die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco), het Dinsdag aan AfriNUUS gesê dat slegs die departement van binnelandse sake die gesag het om mense te keer om die land binne te kom.
Dit volg nadat Geordin Hill-Lewis, burgemeester van Kaapstad, gister Naledi Pandor, minister van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco), versoek het om ’n gesanksioneerde Russiese oligarg, Alexei Mordasjof, se superseiljag te verbied om by Kaapstad te anker.
Volgens Hill-Lewis is die miljardêr en sy superseiljag nie welkom in Kaapstad nie. Lees AfriNUUS se vorige berig hier.
“Hy rig sy oproep aan die verkeerde minister en departement. Die departement van binnelandse sake het die gesag om mense te keer om die land binne te gaan. Maritiem word deur die departement van vervoer bestuur,” het Monyela aan AfriNUUS bevestig.
Die Presidensie het Woensdag gesê dit sal nie ‘n superseiljag, wat deur die Russiese miljardêr Alexei Mordasjof besit word, keer om môre in Kaapstad aan te dok nie.
Dit kom ten spyte van die Kaapstadse burgemeester se versoek om Alexei Mordasjof en sy superseiljag toegang tot die stad te weier.
Dit seiljag arriveer Donderdag van Hongkong in Suid-Afrika.
Die seiljag is tans onderweg na Kaapstad vanaf Hongkong.