Geordin Hill-Lewis, burgemeester van Kaapstad, het aan die Minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking (Dirco), dr. Naledi Pandor, geskryf en haar versoek om die toegang van ’n vaartuig – wat deur Alexey Mordashov besit en geseil word en op pad na Kaapstad is – te keer.
“Ek het ook versoek dat Mordashov nie toegelaat word om die land binne te gaan nie,” sê Hill-Lewis. “Om ’n medepligtige aan staatsterrorisme teen onskuldige mense as ’n gas by ons kus te verwelkom, sal ’n skending van hierdie waardes wees”.
Dit volg nadat die luukse seiljag wat aan die gesanksioneerde Russiese oligarg Alexey Mordashov behoort, toegang tot ander lande geweier is.
“Suid-Afrika het ’n morele plig om te doen wat hy kan om die onregverdige oorlog, staatsterrorisme en die growwe skending van menseregte te protesteer. Ons moet opstaan teen ekspansionistiese imperialisme waar dit ook al sy lelike kop uitsteek. Dit is veral so, in die lig van ons land se eie pynlike geskiedenis van imperialisme,” sê Hill-Lewis.
’n Superseiljag van R9 miljard wat aan die Russiese oligarg Alexey Mordashov behoort, het verlede week uit Hongkong vertrek, op pad na Kaapstad. “Sover ons kennis strek, is Mordashov aan boord van die vaartuig en beoog om Suid-Afrika binne te gaan deur die hawe van Kaapstad. As dit gebeur, sal Mordashov – en sy luukse seiljag – as gaste van die Suid-Afrikaanse staat beskou word,” sê Hill-Lewis.
“Die internasionale gemeenskap het Rusland se inval in die Oekraïne en sy anneksasie van vier gebiede van die Oekraïense grondgebied met geweld as onwettig erken. Duidelike bewyse bestaan vir oorlogsmisdade en misdade teen die mensdom wat deur die Russiese staat teen die Oekraïense mense gepleeg is, insluitend doelbewuste aanvalle op burgerlike teikens, slagtings op burgerlikes, marteling en die verkragting van vroue en kinders. Baie duisende mense is dood en baie meer se huise is verwoes en lewens uitmekaar geskeur,” sê Hill-Lewis.
“Mordashov is die hoofaandeelhouer en voorsitter van Severstal, Rusland se grootste staalmaatskappy. Die staalbedryf is van belangrike strategiese belang vir die regering van Rusland en van die Russiese oorlogspoging. Mordashov is ook voorsitter van die maatskappy Severgroup, wat ’n groot aandeelhouer is van Bank Rossiya, waarvan hy persoonlik ’n aansienlike aandeel besit. Na Rusland se onwettige anneksasie van die Krim, het Bank Rossiya aggressief na die streek uitgebrei en takke in beide die Krim en Sewastopol oopgemaak, wat die ekonomiese integrasie van Oekraïense grondgebied in Rusland gedwing het. Gevolglik het Mordashov persoonlik finansiële voordeel uit onwettige aktiwiteite getrek.
“Severgroup besit ook ’n groot deel van die National Media Group, wat verskeie Russiese televisiestasies beheer wat Russiese propaganda uitsaai en aktief die Russiese regering se optrede in die Oekraïne bevorder. Op hierdie manier het Mordashov weer gehelp om aktiwiteite te ondersteun wat Oekraïne se territoriale integriteit en soewereiniteit ondermyn, en is ’n medepligtige aan die gewetenlose misdade wat teen Oekraïense burgerlikes gepleeg word.
“Die stigtingsbepalings van ons Grondwet verklaar ons nasie se verbintenis tot menswaardigheid en die bevordering van menseregte en vryhede. Om ’n medepligtige aan staatsterrorisme teen onskuldige mense as ’n gas by ons kus te verwelkom, sal ’n skending van hierdie waardes wees. As Mordashov toegelaat word om aan te dok en binne te gaan, glo ek dit is iets waaroor ons nie net skaam sal voel as ’n kwessie van ons eie moraliteit nie, maar dit sal ook ons reputasie en aansien onder die vredeliewende nasies van die wêreld.
“Die Nasionale Regering het ’n plig om ons land se aansien in die internasionale gemeenskap te koester en ons verpligtinge teenoor ander nasies na te kom. Daar moet gesê word dat ons land se buitelandse beleidsgedrag met betrekking tot Rusland se onwettige, imperialistiese oorlog tot dusver niks minder as skandelik was nie. Hier is ’n geleentheid om sommige van daardie oordeelsfoute reg te stel en op te staan vir wat duidelik reg is.
“Ek doen dus ’n beroep op minister Pandor om Mordashov se dok in Kaapstad en sy toetrede tot die RSA te verbied.”
1 Kommentaar
Mnr die Burgermeester. Edele motiewe. Jy kan dit egter op jou maag skryf en met jou hemp afvee. Met ons regering se geskiedenis met kriminele asook ons gebrek aan knaters, is daar nie veel hoop dat jy hulp by hulle gaan kry nie.