Wêreldrugby se uitvoerende hoof, Alan Gilpin, en Wêreldrugby se direkteur van rugby, Phil Davies, het met die Suid-Afrikaanse direkteur van Rugby, Rassie Erasmus, Donderdag vergader en “positiewe besprekings gevoer oor onlangse gebeure en amptelike kommunikasie oor wedstryde in die algemeen.”
Volgens Wêreldrugby het “konstruktiewe gesprekke” tussen die rugbyliggaam en Erasmus plasgevind.
Menings is uitgeruil wat gelei het tot ’n beter begrip van die onderskeie posisies.
“Daar was ’n ooreenkoms dat verdere dialoog nodig is in terme van die verbetering van die proses wat tussen spanne en wedstrydbeamptes funksioneer om te verseker dat almal hul rol kan speel om groot skouspele te skep en frustrasie te vermy, maar op ’n manier wat die respek vir wedstrydbeamptes, afrigters en spelers onderskryf.”
“Verdere dialoog sal voortgaan ná vandag se laaste Springboktoets van die jaar.”
Erasmus het, in reaksie, gesê: “Dankie Wêreldrugby. Nou kan ons aanbeweeg.”