Ashley Oosthuizen (23), ’n oudleerling van Hoërskool Outeniqua in George, is op 18 Augustus 2021 tot lewenslange tronkstraf gevonnis nadat sy by ‘n restaurant waar sy gewerk het geteken het vir ’n koerierpakkie wat dwelms bevat. Ashley beweer dat sy nie geweet het wat in die pakkie is toe sy daarvoor geteken het nie. Die Thaise owerhede het oomblikke daarna, in Oktober 2020, haar in hegtenis geneem op aanklagte van internasionale dwelmhandel.
AfriNUUS het vroeër berig oor haar ekskêrel, wat tans in die Oekraïne is, wat beweer dat hy volle verantwoordelik vir die dwelmpakkie, wat MDMA bevat, neem. Dit het egter nie die Thaise owerhede oortuig nie, en hy het landuit gevlug.
Haar vonnis is laasjaar verkort tot 33 jaar, vanaf lewenslank (vir die res van haar lewe). Sy het egter besluit om appèl aan te teken teen die hofuitspraak.
Dit daar gelos. AfriNUUS het Dinsdagoggend gesels met Lynn Blignaut, Ashley se ma, wat tans in Thailand bly om nader aan haar dogter te wees.
Ashley sal volgende maand, op 3 Maart, haar derde verjaarsdag in die Thaise tronkselle spandeer, sedert haar inhegtenisname.
Met meer as 90% van Thailand se bevolking wat Boeddhiste is, keer dit egter nie Blignaut om aan te sluit by ’n Christelike kerkgemeenskap in Thailand en die Thai-taal te leer nie.

AfriNUUS het die volgende vrae aan Blignaut gestel:
1. Hoe gaan dit met Ashley in tronk? Wat doen sy alles?
“Dit gaan goed met Ashley, onder die omstandighede waarin sy haarself bevind. Sy is gesond, sy staan sterk en is gefokus. Sy het elke week ’n getuienis waar sy aan groepsbesprekings deelneem. Sy leer ook nuwe danspassies aan en werk in die tronk se biblioteek.”
Blignaut vertel dat Ashley reeds vlot Thai kan praat en skryf, en dat sy nou vir haar ’n boek gekoop het waar sy ook Frans kan leer praat.

2. Hoeveel keer per week kan jy Ashley besoek? Kan jy haar al in persoon sien (soos ’n drukkie gee of is dit steeds agter ’n glasvenster)?
“Ek kan haar twee keer per week besoek, maar steeds agter ’n glasvenster.”
Blignaut vertel dat sy vertrou dat sy binne die volgende 2 – 3 maande die geleentheid sal kry om uiteindelik Ashley in persoon te sien om fisiese kontak met haar te kan maak.
“Huidiglik is die tronkbewaarders nogsteeds streng met die reëls en protokolle wat in plek is, en moet besoekers steeds maskers dra weens die Covid-19-pandemie.”
Aanvanklik moes besoekers, soos sy, doktersbriewe bring om te bewys dat hulle negatief vir die koronavirus getoets het, maar die maatreël is mettertyd verwyder.
3. Hoe vorder die appèlaansoek?
“Die appèlsaak kan nog ’n jaar neem. Niemand weet regtig nie, so ons vat dit maar dag vir dag en doen elke dag wat ons kan om al die prosedures te volg.”
Blignaut het verder bevestig dat hulle prokureurs in Thailand het wat help met die appèlproses en Ashley se regsake.
4. Watter werk doen jy tans, terwyl jy in Thailand is, en hoe spandeer jy jou vryetyd?
“Aangesien ek nie ’n werkspermit in Thailand het nie, werk ek nie tans hier nie. Ek het wel ’n verlenging in my visum wat my meer tyd gee om saam met my dogter te spandeer.”
Blignaut het verder bevestig dat sy tussen alle regsake haar Thaise studies doen waar sy die taal leer praat, en ook haar besigheid in Suid-Afrika bedryf. Sy spandeer ook heelwat tyd aan die regsproses met Ashley wat sy eie uitdagings het.
“Dit is nie alles voor die hand liggend soos mens dink nie. Alles vat sy tyd, en dit vat langer as wat dit normaalweg sou neem.”
Sy spandeer ook nou tyd om Thai as ’n taal aan te leer, aangesien daar so baie mense is wat Thai praat. Blignaut vertel dat sy ook wil weet wat mense sê wanneer hulle die taal praat en sodat sy haarself duidelik kan uitdruk as sy met mense kommunikeer.
“Dit is nie so eenvoudig soos enige ander taal nie. Dit is ’n baie moeilike taal om te verstaan, en alles wat daarmee gepaard gaan. Maar, niks is onmoontlik nie.”
Oor vryetyd, vertel Blignaut dat sy nie baie tyd het om te kan doen wat sy wil nie.
“Ek het wel na bykans 7 jaar weer begin draf en ’n swembad gevind waarin ek nou gereeld kan oefen.”
Blignaut vertel dat sy besef het dat “as jy nie na jouself kyk nie, jy ook nie na jou meisiekind kan kyk nie.”
Sy is verder betrokke by die plaaslike Christelike kerk in die omgewing.
Volgens navorsing deur AfriNUUS is daar slegs 1,13% van die bevolking van Thailand wat Christenskap as ‘n geloof beoefen, terwyl Boeddhisme onder 93,46% van die bevolking beoefen word, en 5,37% die Islam-geloof beoefen.
5. Is daar steeds ’n fonds om Ashley te ondersteun, en indien so, wat is die besonderhede?
Ja, daar is ’n nie-winsgewende organisasie, Hearts4Ashley, wat uitsluitlik vir Ashley se regskostes gebruik word. Dit is in Suid-Afrika by FNB geregistreer.
- Hearts4Ashley NPC
- FNB
- Garden Route Mall
- Business Account
- Rekeningnommer: 629 3970 9020
- Tak: 250069
- Swift-kode: FIRNZAJJ
PayPal-rekening: Hearts4Ashley
6. Ons het gesien dat Ashley die afgelope paar weke ‘n paar gedigte uitgereik het op die platform “A Voice For Ashley Oosthuizen” (van hoe dit voel in die tronkselle tot ’n Valentynsboodskap). Skryf sy meer stories in die tronk?
“Dit is nie regtig gedigte nie. Sy het ’n blog begin toe sy ’n hoërskoolstudent was en sy het onlangs besluit dat dit is wat sy nou voel sy moet doen, met dit wat sy in haar hart en hand het.”
“Dit is maar net Ashley daai,” vertel Blignaut. “Sy gaan aan met haar blogging. Dit is net bietjie anders as wat sy in die verlede sou gedoen het”.



7. In watter tronk word sy nou aangehou?
Sy is steeds in dieselfde tronk, Nakhon Si Thammarat Sentraal-gevangenis in die suide van Thailand, waarna sy oorgeplaas is op 29 Desember 2021.
8. Hoe lank beplan jy (Lynn) om oorsee te bly?
“Ek sal hier bly solank as wat ek kan,” vertel Blignaut. “Ek kan nie sien dat ek sommer huis toe [terug na Suid-Afrika] gaan nie, behalwe as daar nie enige ander opsie is nie.”
Vroeër in die berig het Blignaut vertel dat sy darem ’n visum-verlenging toegestaan is.
9. Ontvang jy enige hulp van Dirco daai kant?
“Suid-Afrika se departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) verleen steeds konsulêre hulp,” vertel Blignaut.

AfriNUUS verneem dat daar nie tans ‘n uitleweringsooreenkoms tussen Thailand en Suid-Afrika is nie, wat beteken dat sy nie in Suid-Afrika haar vonnis kan uitdien nie.