Landdros Ben Mtebele het in April 2021, by die Potchefstroomse landdroshof, Thandi Modise, die huidige minister van verdediging, onskuldig bevind op strafregtelike aanklagte wat deur die nasionale dierebeskermingsvereniging (NDBV) vir dieremishandeling teen haar aanhangig gemaak is.
“Dit was een van die ergste gevalle van dieremishandeling wat die NDBV nog moes ondersoek,” vertel Keshvi Nair, woordvoerder van die NDBV.
“Die erns van die lyding van die diere op Thandi Modise se plaas is ingeëts in die herinneringe van die inspekteurs wat op die toneel gereageer het, en nou is geregtigheid vir daardie diere weereens ontken – dié keer weens die landdros.
AfriForum wat die private vervolging van hierdie saak namens die NDBV hanteer, het vandag voor die appèlafdeling van die hooggeregshof in Mmabatho verskyn om te appelleer teen die uitspraak wat Modise geregverdig het.
Landdros Mtebele, die voorsittende beampte wat Modise onskuldig bevind het, het versuim om redes vir die oordeel te verskaf. Sonder die redes vir landdros Mtebele se uitspraak kon die Mmabtho-appèlhof nie die NDBV se appèl aanhoor nie.
“Dit is skokkend dat ’n streekhoflanddros sy plig versuim het om redes vir sy oordeel te verskaf. Dit het die NDBV se appèlsaak erg gekniehalter,” meen Nair.
Die Regter-president het self verklaar dat die Streekhof-landdros se karige redes onsinnig was.
’n Aansoek sal deur AfriForum se regspan gebring word om die landdros te verplig om redes te verskaf waarom Modise onskuldig bevind word.
Daarna sal die saak weer voor die appèlafdeling van die Mmabatho-hooggeregshof kom.
“Die NDBV betuig sy opregte waardering aan advokaat Gerrie Nel, advokaat Phyliss Vorster, en die res van die Privaat Vervolgingseenheid by AfriForum vir hul onwrikbare verbintenis om die NDBV te help om geregtigheid vir die diere in hierdie saak te soek,” sluit Nair af.