Theuns du Toit, wat permanent uit die Universiteit Stellenbosch (US) geskors is nadat hy op ’n medestudent se rekenaar geürineer het en volgens die tugkomitee ’n rassistiese opmerking gemaak het, sal hom tot die howe wend om die besluit om te keer.
AfriNUUS het ’n onderhoud met Theuns du Toit versoek om meer te verduidelik oor die huidige situasie waarin hy homself bevind. Dit sal later eksklusief deur AfriNUUS gepubliseer word.
Met betrekking tot die vorderingsverslag van fondse wat ingesamel is om du Toit met sy regskostes te help, het die Geregtigheid vir Theuns-Facebookgroep bevestig dat daar reeds R190 400 ingesamel is.
“Ons besef dat ons nog ’n ver pad het om te gaan, maar ons word bemoedig deur elke bydrae en al die positiewe boodskappe,” skryf die blad.
Du Toit het die Wes-Kaapse hooggeregshof genader om sy skorsing te laat hersien en tersyde te stel.
Dít nadat ’n dissiplinêre verhoor deur die universiteit se onafhanklike sentrale dissiplinêre komitee (CDC) hom in Julie verlede jaar skuldig bevind het.
“Deur op medestudent Babalo Ndwayana se skootrekenaar en studiemateriaal te urineer, het Du Toit ongetwyfeld sy menswaardigheid, integriteit en sekuriteit aangetas,” het die paneel bevind.
Hy is toe met onmiddellike effek geskors.