Die Raad van die Universiteit Stellenbosch (US) het 'n komitee van drie lede aangestel om bewerings van nepotisme en 'n moontlike verbreking van reëls te ondersoek wat met die Rektor se Diskresionêre Plasings verband hou na aanleiding van plasings van familielede van die Rektor en Visekanselier, prof Wim de Villiers.
Oudregter Carole Lewis sal as voorsitter van die komitee optree, en sal bygestaan word deur twee US Raadslede, Helena Conradie en Ziyanda Stuurman.

Dit volg ná die nepotisme-skandaal by die universiteit waar de Villiers glo familielede by die universiteit geplaas het.
Oudregter Lewis is 'n voormalige dekaan van Wits-Universiteit se Fakulteit Regsgeleerdheid en regter van die Johannesburgse hooggeregshof. Sy het in 2019 ná byna 17 jaar as regter in die appèlhof afgetree.
Conradie, 'n Geoktrooieerde Finansiële Ontleder-oktrooihouer, is vroeër vanjaar deur donateurs tot die Raad verkies. Stuurman, 'n openbare beleids-, polisiëring- en sekerheidsontleder, is in 2017 deur die Minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Tegnologie in die Raad aangestel.
“Die komitee se werk neem middel-Mei 'n aanvang en hulle sal as 'n saak van dringendheid hulle volle verslag met bevindings en aanbevelings, indien enige, by die US Raad indien. Sodra die Raad hierdie verslag ontvang het, sal hulle die aanbevelings evalueer en die mosie oorweeg wat deur dr Leon Schreiber ingedien is,” sê dr Nicky Newton-King, voorsitter van die US Raad.
Lees gerus die opdrag hieronder:
Terms-of-Reference-of-Committee