Dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, sê die beskuldiging van Amerika se ambassadeur in Suid-Afrika, Reuben Brigety, dat Suid-Afrika wapens en ammunisie aan Rusland verskaf het wat moontlik in die oorlog in Oekraïne gebruik kan word, is baie ernstig.
Brigety het tydens ’n nuuskonferensie gesê Amerika se inligting is dat “wapens en ammunisie” in Desember verlede jaar in Simonstad op die Russiese skip Lady R gelaai is en dat Amerika die voorval in ’n “ernstige lig” beskou.
Dr. Groenewald het vandag persoonlik met die Amerikaanse ambassade geskakel en daar is aan hom bevestig dat die bewerings wel gemaak is.
Die VF Plus wil antwoorde hieroor hê van die minister van verdediging, Thandi Modise.
“Sy moet eerstens sê of dit in ooreenstemming is met bestaande uitvoerooreenkomste rakende die uitvoer van wapens en ammunisie en of die korrekte prosedure gevolg is ingevolge die riglyne van die nasionale komitee vir die beheer oor konvensionele wapens (NCACC),” sê dr. Groenewald. “Suid-Afrika se Wet op die Beheer van Konvensionele Wapens bepaal duidelik dat sulke wapens en ammunisie nie in streekskonflikte gebruik mag word nie.”
Die minister moet ook bekend maak wat die bepalings is van die eindgebruikersertifikaat van die wapens en ammunisie en presies watter soort wapens en ammunisie glo aan die Russe gegee is.
Dit is bekend dat die eindgebruikersertifikaat moet stipuleer waarvoor die wapens en ammunisie aangewend gaan word.
“Sou dit aangewend word vir die gewapende konflik in Oekraïne, het die ANC-regering slinks opgetree,” sê dr. Groenewald. “Dit sou dan totaal onaanvaarbaar vir die Suid-Afrikaanse regering wees om enigsins nog te probeer voorgee dat hy neutraal staan in dié oorlog.”
“Amerika se intelligensiediens is hoogs gesofistikeerd en ’n ambassadeur sal nie sulke stellings maak sonder goeie bewyse nie. Hierdie is daarom nie net ’n losse beskuldiging nie en dit maak dit soveel meer noodsaaklik dat Suid-Afrika onverwyld reageer.”
Indien daar nie bevredigende antwoorde verskaf word nie, sal die voorval die integriteit van Suid-Afrika in sy verhoudinge met Westerse moondhede ernstig aantas.