Die Russiese ambassade in Suid-Afrika het Dinsdag ’n verklaring uitgereik waarin dit sê dat die Verenigde State van Amerika (VSA) se bewerings dat Suid-Afrika in Desember 2022 wapens aan boord van die Russiese vaartuig Lady R gelaai het geen verrassing is nie, en bygevoeg dat dit nie Suid-Afrika kan “straf” omdat dit “bande met Rusland het nie”.
Volgens Rusland is daar geen bewyse verskaf om die VSA se bewerings te ondersteun nie.
“In hierdie konteks kan die woorde van die Amerikaanse amptenaar nie anders beskou word as ’n poging om ’n onafhanklike, soewereine staat se buitelandse beleid te bëinvloed nie. Dit kom as geen verrassing nie, want dit lyk asof die VSA lank gelede sy vermoë verloor het om op ’n gelyke basis met vennote om te gaan, omdat ’n mens se vriendskap met die VSA is slegs moontlik onder Amerikaanse reëls,” lui die verklaring.
Die ambassade het verder beweer dat daar ’n veldtog is om druk op Suid-Afrika te plaas, “wat uiteraard gekoördineer met Westerse hoofstroommedia” oor Suid-Afrika se neutrale posisie met betrekking tot die konflik tussen Rusland en die Oekraïne.
Die vasmeer van die Lady R in Simonstad “is totaal vals”, het die ambassade gesê, en “so vals soos die inligting wat deur die Verenigde State aan die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad verskaf is om die inval in Irak in 2003 te regverdig.”
“As ambassadeur Brigety hierdie saak ernstig opneem, hoekom verduidelik hy dan nie hoekom Rusland wapens en ammunisie van Suid-Afrika benodig wat nie ooreenstem met die tipes of die kalibers van die stelsels wat tans gebruk word met Rusland se gewapende magte nie en hoe kan so ’n klein hoeveelheid ‘wapens en ammunisie’ wat na bewering ‘op die vaartuig gelaai is’ in elk geval die situasie op die slagveld beïnvloed?” het die Russiese ambassade gevra.
Die Russe het die VSA verder van dubbele standaarde en skynheiligheid beskuldig, aangesien dit miljarde dollars se wapens aan Oekraïne verskaf het, wat “gebruik word om stede in Donbass, sowel as Bryansk- en Belgorod-streke van Rusland daagliks aan te val.”
AfriNUUS het gister berig dat die DA en ANC met ambassadeur Brigety wil vergader, nadat hy volgens dr. Naledi Pandor, minister van Dirco, “onvoorwaardelik verskoning gevra het vir sy uitlatings” oor wapens en ammunisie wat glo op die vaartuig gelaai is.