Cilliers Brink, uitvoerende burgemeester van die Stad Tshwane, is tydens sy besoek vandag aan die Jubilee-distrikshospitaal in Hammanskraal deur woedende gemeenskapslede weggejaag ná 15 sterftes weens Cholera.
AfriNUUS kan bevestig dat 15 mense weens die Cholera-uitbraak in Hammanskraal gesterf het.
David Mahlobo, adjunkminister van water en sanitasie, sê die Stad Tshwane het “nie na die partytjie toe gekom” oor kwessies van watervoorsiening vir sy mense nie.
Mahlobo sê ’n formele ondersoek na die Cholera-uitbraak sal in Gauteng ingestel word.
Burgemeester van Tshwane, Cilliers Brink, het bevestig dat alhoewel watergehaltetoetse wat gedoen is bewys dat die water in dele van Noord-Pretoria (wat deel is van die Temba-watervoorsieningskema) skoon is en nie E. coli of Cholera bevat nie, dit steeds as “onveilig vir menslike gebruik” beskou moet word.
Die Limpopo se departement van Gesondheid het ook vanaand sy eerste geval van Cholera in die provinsie bevestig. Die pasiënt is ’n 52-jarige man wat in Musina woon.