Die GOOD-party sê die politieke party is baie opgewonde om aan te kondig dat Peter De Villiers die party se vakante setel in die Wes-Kaapse parlement gaan oorneem.
“De Villiers, wat ’n lang en suksesvolle loopbaan as onderwyser gehad het, voordat hy voltyds na rugby oorgeskakel het, het die afgelope twee jaar sy gemeenskap met passie en toewyding gedien as ’n GOOD-raadslid en koukusleier in die Drakenstein-munisipaliteit.” het Brett Herron, GOOD se sekretaris-generaal en parlementslid, gesê.
“Hy is ’n leier van kaliber en integriteit wie se teenwoordigheid die werk van die provinsiale wetgewer positief sal beïnvloed,” het Herron bygevoeg.
De Villiers is gekies om die Wes-Kaap pos te vul deur GOOD se Nasionale Bestuurskomitee na aanleiding van onderhoude wat die naweek gevoer is. Die vakature het ontstaan ná die party se uitsetting van Shaun August.
“Afrigter”, soos De Villiers in sy gemeenskap bekend staan, het GOOD se veldtog gelei in die 2021 Plaaslike Regeringsverkiesing in Drakenstein waarin GOOD vier setels in die raad behaal het.
De Villiers het gesê dit was ’n groot eer om sy geliefde Drakenstein-gemeenskap as raadslid te dien. “Nou het ek die geleentheid om die breër Wes-Kaapse gemeenskap te dien. Ek sal dieselfde gereedskap gebruik wat my al vir baie jare gedien het: Luister na ander, oorweeg wat hulle sê en wees konstruktief in reaksie.”
GOOD se Sekretaris-generaal Brett Herron het gesê: “Peter de Villiers is ’n nederige en eerlike leier, met geen belangstelling in tenders of politieke speletjies nie. Hy gaan Walestraat toe omdat hy wil bydra om ’n provinsie te ontwikkel wat regverdiger is, met ’n plek in die son vir al sy mense.”