Een man is vanoggend dood en vyf ander beseer ná ’n botsing tussen drie voertuie op Plattekloofweg in Panorama, Wes-Kaap.
“ER24 en die Stad Kaapstad se brand-en-reddingsdienste het kort ná 09h00 opgedaag. Medici het op die toneel ’n vragmotor en sportnutsvoertuig op die pad gevind, terwyl ’n bakkie langs die pad geparkeer was,” het Russel Meiring, kommunikasiebeampte van ER24, gesê.
“By nadere ondersoek het medici ses mans gevind wat in die bakkie gesit het. Assesserings het getoon dat een man in ’n kritieke toestand was terwyl vyf ander ligte tot matige beserings opgedoen het.”
Medici het die beseerdes behandel en die kritiek beseerde man van gevorderde lewensondersteuning voorsien. Na behandeling is die beseerdes na nabygeleë hospitale vervoer vir verdere sorg.
Ongelukkig het die kritiek beseerde man met sy aankoms by die hospitaal aan sy talle beserings beswyk.
Plaaslike owerhede was op die toneel vir verdere ondersoek.