Fanie du Toit, VF Plus-LP in die Noordwes, sê dat dit skokkend is dat inwoners van twee Rustenburgse woonbuurte Dinsdagnag vir ure deur ʼn groot groep wettelose nedersetters geterroriseer is sonder doeltreffende owerheidsoptrede om die situasie in bedwang te bring.
“Inwoners van Oos-Einde en Zinniaville in Rustenburg is Dinsdagnag gekonfronteer deur ʼn horde protesgangers wat paaie afgesper het, voertuie uitgebrand het, huise met klippe bestook en inwoners geteister het deur aan hul hekke te ruk en allerlei dreigemente te uiter. Die groep is afkomstig van ʼn naburige informele nedersetting en het na bewering betoog oor kragonderbrekings in hul gebied,” sê du Toit.
Volgens du Toit was die inwoners van Oos-Einde en Zinniaville tydens hierdie traumatiese ervaring grootliks op hulself aangewese met geen daadwerklike ingryping deur die polisie of die plaaslike wetstoepassingsagentskappe nie.
“Die gebrek aan tydige, voorkomende polisie-optrede om inwoners en hul eiendom te beskerm, is onaanvaarbaar,” voer du Toit aan.
“Dit is duidelik dat ʼn gebrek aan sigbare polisiëring en doeltreffende kommunikasie tussen die betrokke owerhede, asook onvoldoende polisie-intelligensie, voorkom het dat daar pro-aktief optree kon word teen die oproeriges.”
Sulke voorvalle bedreig volgens die party die hele Rustenburgse gemeenskap, en spesifiek die plaaslike ekonomie wat vir groei afhanklik is van ʼn beeld van stabiliteit en voorspoed in die dorp.
“Die kombinasie van swak dienslewering in ANC-beheerde munisipaliteite, ʼn kultuur van wetteloosheid in gemeenskappe en ʼn polisiemag wat skynbaar nie opgewasse is vir sy taak nie, skep ʼn teelaarde vir anargie en algemene verval.”