Caster Semenya
(Foto bron: Getty Images)
Die Europese Hof vir Menseregte het ten gunste van die dubbele Olimpiese kampioen, Caster Semenya, beslis in ‘n saak wat die testosteroonvlakke van vroulike atlete behels.
Die 32-jarige Suid-Afrikaner was nie toegelaat om aan sekere atletiese items deel te neem sonder om testosteroon-verminderende middels te neem nie. Semenya, wat nog altyd wettiglik as vroulik geïdentifiseer is, sê sy behoort aan vroue byeenkomste te kan deelneem al is haar testosteroonvlakke hoër as haar mededingers.
Semenya is al jare lank in ’n dispuut met die beheerliggaam, World Athletics, sedert regulasies wat haar vereis om hormoonbehandeling te neem om haar natuurlike testosteroonvlakke te verlaag, in 2018 ingestel is.
Die saak by die Europese Hof vir Menseregte (EHMR) was gebring teen die regering van Switserland omdat die land nie haar regte beskerm het nie en dateer terug na ‘n Switserse Hooggeregshof-uitspraak drie jaar gelede. Die hof het beslis dat daar teen Semenya gediskrimineer is deur die reëls wat haar gedwing het om haar testosteroonvlakke te verlaag om aan te hou meeding. Die impak van die EHMR se uitspraak is nog onduidelik.