Foto Bron: ACampbel79
Die Demokratiese Alliansie (DA) het die stadsbestuurders van die Gamagara, Gasegonyana, Joe Morolong en Kgatelopele munisipaliteite versoek om dringend by Eskom aansoek te doen vir ‘n tydelike beurtkragvrystelling vir minstens ‘n week, sodat watertoevoer herstel en waterreserwes aangevul kan word.
Dit kom nadat nóg ‘n brand massiewe verwoesting in die groter Kuruman- en Kathu-omgewing veroorsaak het. Kragdrade en pale is vernietig. Dit het sedert Saterdag ‘n algehele kragonderbreking veroorsaak. Die gebrek aan krag beteken dat water ook nie gepomp word nie, wat veroorsaak dat reservoirs leegloop. Dit bied ‘n dubbele krisis vir boere wat brande bestry én sukkel om water aan hul vee te voorsien.
Daar word beweer dat die brand die naweek tydens ‘n militêre oefening by die Lohatla-opleidingsentrum ontstaan het. Pleks daarvan om boere dadelik met hul eie persoonlike brandbestrydingstoerusting op die perseel toe te laat, het die Suid-Afrikaanse Weermag (SAW) glo voortgegaan met die oefening en eers later toegang aan boere verleen. Teen daardie tyd was die brand buite beheer. Dit kom weke nadat ses SAW-lede in nog ‘n brand op Lohatla gesterf het.
Hierdie en ander brande het groot stukke grond vernietig. Een brand het binne 500 meter van die buffer tussen Hotazel en die Thompson View-behuisingslandgoed plaasgevind. Ten spyte daarvan dat dit in hul jurisdiksie is, het Gasegonyana se brandweer sy verantwoordelikheid om te reageer afgestaan omdat hulle beweer het dat hulle hul toegekende kilometers vir die week opgebruik het. Boere het tot die landgoed se redding gekom en brandbestrydingspogings op hul eie grond laat vaar om te keer dat die brand na die behuisingslandgoed versprei.
Die jongste brand ontbloot baie regeringstekortkominge.
Ek het onlangs ‘n mosie in die Nasionale Raad van Provinsies (NRV) ter tafel gelê vir die Premier om ‘n rampgebied te verklaar in reaksie op vorige brande om fondse vry te stel om beter ondersteuning aan boere te bied. Die mosie is eenparig aanvaar, maar daar was nog geen beweging ten opsigte van die rampverklaring nie.
Ek het die naweek weer die DA se kommer oor moontlike brandstigting, brandbestrydingskoördinering, rampversagtingsplanne en ondersteuning aan boere met die COGHSTA LUR, Bentley Vass, bespreek. Hy het ingestem om ‘n vergadering tussen hom en myself sowel as COGHSTA, die Provinsiale Rampbestuursentrum, boere, die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), die SAW asook die geaffekteerde plaaslike munisipaliteite te skeduleer.
Die DA het ook ons kommer oor die SAW se versuim om verantwoordelikheid te aanvaar vir brande wat op hul grond ontstaan, om brandbane te skep en in brandbestrydingstoerusting te belê, na ons nasionale kollega verwys om met die Minister van Verdediging op te neem.
Die DA bedank almal wat hul lewens gewaag het om die brande te help bestry, asook die private maatskappye wat uit hul pad gegaan het om watertenkwaens met boorgatwater vol te maak, met die gebruik van kragopwekkers.
’n Doeltreffende brandbestrydingsreaksie is egter net so goed soos sy swakste skakel en vereis dat alle belanghebbendes ewe daarin belê word om brande te blus en die skade te versag. Dit is dus tyd dat die regering ook sy deel doen.