Foto bron: Verskaf
Dit was ‘n eer om vandag in Kimberley te kon deelneem aan die ondertekening van die OVK se Gedragskode namens Demokratiese Alliansie in die Noord-Kaap en om weer in die openbaar ons verbintenis tot ‘n vrye en regverdige verkiesing te belowe.
Die DA het, en sal nog altyd, opstaan om ons swaarverdiende demokrasie te beskerm. Ons erken ook dat vrye en regverdige verkiesings die rugsteen van demokrasie is. Dit plaas ‘n massiewe verantwoordelikheid op die OVK om ‘n gelyke speelveld onder mededingende politieke partye te handhaaf. Des te meer aangesien die 2024-verkiesing die belangrikste verkiesing sedert 1994 is.
Vir die eerste keer lyk dit of die ANC in die Noord-Kaap minder as 50% gaan bereik en sy meerderheid verloor. Menigte nuwe partye poog ook om hul aanspraak in die politieke landskap te maak, ten alle koste. Saam met die OVK behoort ons almal op ‘n om op hoë gereedheid te wees vir toenemend desperate pogings deur sommige om aan mag vas te klou. Ons moet ook die gebruik van gewetenlose taktiek, om vastrapplek in die provinsie se politieke landskap te probeer kry, bekamp.
Ons kan nie die verwydering en vernietiging van politieke party-plakkate, die blatante verspreiding van disinformasie oor politieke partye op aanlyn platforms, valse bewerings wat teen hoëprofiellede van politieke partye gemaak word met die uitsluitlike bedoeling om politieke partye te diskrediteer, die georkestreerde saai van verdeling tussen verskillende ras- en kultuurgroepe, die versuim deur politieke partye om skenkings te verklaar en die misbruik van staatshulpbronne vir politieke gewin, duld nie.
Daar is geen plek in ons demokrasie vir politieke partye wat die oppergesag van die reg opsetlik verontagsaam om voordeel op hul opposisie te kry.
Die DA doen ‘n beroep op die OVK vir opgeskaalde en gelyke polisiëring van die optrede van alle politieke partye in die Noord-Kaap. Daar moet ook ferm gevolgbestuur wees in gevalle waar daar bevind word dat politieke partye die gedragskode oortree het. Dit is belangrik sodat kiesers nie mislei word en hul stemme mors nie, of selfs die toekoms van hierdie provinsie en land in die hande van valse profete plaas nie.
Op 29 Mei sal kiesers in goeder trou na die stembus gaan, met die verstandhouding dat hul stem hul mag is en dat dit wel ‘n verskil kan maak. Dit behoort nie ‘n hersenskim te wees nie, maar ‘n waarborg vir die bereiking van ‘n beter toekoms vir Suid-Afrika.