Met die nuwe rondte aansoeke vir die R350 maatskaplike verligting van nood (SRD)-toelae wat geopen word, het die Suid-Afrikaanse Poskantoor (Sapo) aansoekers versoek om nie omkoopgeld te betaal aan selfaangestelde touwagters buite sy takke om na die voorkant van die tou geneem te word nie.
“Die poskantoor raai begunstigdes aan om nie te oorweeg om sulke omkoopgeld te betaal nie. Om omkoopgeld te betaal of aan te vra, is kriminele aktiwiteite,” het Sapo Maandag gesê.
Die Sapo het aansoekers versoek om die opsie te gebruik wat begunstigdes toelaat om hul toelae by enige Pick n Pay, Boxer, Shoprite, Checkers of USave supermark af te haal.
Hierdie opsie is beskikbaar op https://srd.sassa.gov.za en die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (SASSA) kan by 0800 601 011 gekontak word.
“Enige individu wat sy of haar foon gebruik het om slegs vir hul eie toelae aansoek te doen en die poskantoor as ’n versamelpunt kies, kan wanneer hulle aansoek doen aandui dat hulle hul toelae van enige Pick n Pay, Boxer, Checkers, Shoprite of Usave supermark wil onttrek.
“Begunstigdes wat ’n selfoon deel om vir die toelae aansoek te doen, kan die toelaag slegs by ’n poskantoortak afhaal.
Kliënte wat die R350 COVID-verligtingstoelae ontvang, besoek dikwels die poskantoor om te kyk of daar geld vir hulle is. Dit is nie nodig nie, hulle kan aanlyn kyk deur op https://srd.sassa.gov.za/sc19/status te klik,” het Sapo gesê.
Die poskantore het twee afsonderlike toue, een vir kliënte wat die COVID-19-toelae ontvang en een vir ander transaksies.
Dit verseker die kortste moontlike wagtyd vir alle kliënte. –SAnews.gov.za