Amptenare van die Departement van Onderwys in Noordwes gaan vandag Hoërskool Rustenburg besoek om ‘n voorval te ondersoek waarin vier leerlinge na bewering die Nazi-saluut gegee het tydens die sing van ‘n Duitse Tweede Wêreldoorlog-liedjie.
Die provinsiale woordvoerder, Elias Malindi, het gesê meer inligting sal bekendgemaak word, nadat hul ondersoek afgehandel is.
In ‘n verklaring het die beheerliggaam van Hoërskool Rustenburg gesê dit sal optree teen leerders wat die Nazi-saluut in ‘n TikTok-video gedoen het.
“Daadwerklike en verantwoordbare stappe sal geneem word teen leerders van die Hoërskool Rustenburg wat ‘n Nazi-saluut gedoen het. Die skoolbeheerliggaam van die Hoërskool Rustenburg beskou die voorval in ‘n uiters ernstige lig,” sê Bernhard Visser, Beheerliggaamvoorsitter, in ‘n verklaring.
“Die leerders het aan ‘n karaoke-kompetisie by die skool deelgeneem toe die voorval plaasgevind het, en ‘n video-opname daarvan doen nou ook die ronde,” sê Visser verder.
Visser sê daar is dadelik opgetree nadat die voorval onder die aandag van die beheerliggaam gekom het.
“’n Dissiplinêre ondersoek is reeds onderweg. Die leerders is geïdentifiseer en hul ouers is ook reeds ingelig.”
Die beheerliggaam sal met die Noordwes-ondewysdepartement konsulteer in terme van die ondersoek en daaropvolgende besluite.
Die beheerliggaam is nie net bekommerd oor die skade aan die skool se reputasie nie, maar ook oor die gebrek aan bewustheid rondom sosiale kwessies wat hierdeur aan die lig gebring is.
“Die Hoërskool Rustenburg bied reeds vir ‘n eeu uitmuntende onderrig aan jong Suid-Afrikaners. Die grondslag hiervan is respek. Gehalte-onderrig kan slegs plaasvind in ‘n omgewing waar respek vir ander die ruimte skep vir elkeen om te groei en hul potensiaal te verwesenlik,” voeg Visser by.
Hy meen egter dat diskriminasie op enige vlak onaanvaarbaar is, aangesien dit inbraak maak op ander se ruimte om te groei.
“Dit is alle rolspelers in onderwys se plig om toe te sien dat leerders toegerus word met die nodige sosiale vaardighede en insig in sosiale omstandighede om as landsburgers by te dra tot die ontwikkeling van die samelewing. Die beheerliggaam het reeds begin met beplanning vir ‘n program om groter bewustheid te skep rakende diskriminasie en die omvang en impak daarvan.
“Dit is belangrik dat leerders se optrede — binne en buite die skool — gebaseer word op weldeurdagte besluite. Die beheerliggaam sal dus alles in sy vermoë doen om toe te sien dat daar binne die skoolomgewing die ruimte geskep word vir leerders om sensitief en met insig om te gaan met simbole en gebare wat verbind word aan van die grootste misdade teen die mensdom,” sluit Visser af.
