Die Kongres van Suid-Afrikaanse Studente (COSAS) in die Wes-Kaap, het vandag Curro Somerset-Wes besoek, nadat daar beweerde voorvalle van rassisme en boeliegedrag by die skool voorgekom het. Volgens Curro is COSAS se inligting nie akkuraat nie.
In ‘n verklaring het Mphumzi Giwu, Waarnemende Provinsiale Sekretaris van COSAS in die Wes-Kaap, gesê dat dit onder die studentegroep se aandag gekom het dat die skoolhoof van die private skool, mev. M. Van der Merwe, na bewering nie kundig opgetree het teen voorvalle van rassisme en afknouery by die skool nie.
Marí Lategan, Curro Bestuurder van Korporatiewe Dienste, sê in ‘n verklaring dat Curro Holdings die verkeerde inligting soos gekommunikeer in ‘n verklaring wat uitgereik is deur COSAS Wes-Kaap, rondom ‘n voorval by Curro Somerset-Wes, weerlê.
“Curro Holdings herhaal dat die inligting nie ‘n akkurate weerspieëling is van sy skole en die situasie waarna verwys word nie,” sê Lategan.
“Die groep se privaatheidsbeleide verhoed dat sy skole presiese besonderhede verskaf van enige voorval waarby enige van sy leerders betrokke is. Die beskerming van sy leerders en hul privaatheid bly ‘n topprioriteit,” sê die Lategan verder.
Curro kan egter bevestig dat daar ‘n geïsoleerde voorval tussen twee vroulike studente van dieselfde ras was. Een leerder het na skoolure dreigende stemnotas aan ‘n ander uitgereik.
“Die skool het op versoek van ‘n ouer ingegryp. Die nodige interne dissiplinêre prosesse en daaropvolgende bemiddeling het plaasgevind, terwyl ondersteuning aan die familie gebied is,” sê Lategan.
Lategan sê dat daar ook kennis geneem moet word dat COSAS die skool se perseel op 24 Mei 2022 onder valse voorwendsels betree het, terwyl een van sy verteenwoordigers voorgegee het dat hy ‘n familielid van leerders is wat by die skool afgehaal moet word.
“Sodanige optrede word as onaanvaarbaar en roekeloos beskou aangesien ‘n skool as ‘n plek van veiligheid vir leerders beskou word. Die groep sal sterk optree teen enige persoon en/of organisasie wat dit in gevaar stel,” sê Lategan verder.
“Soos met al sy skole, herhaal die Curro-groep dat hulle heeltemal verbind is tot eenheid en rassesamehorigheid en nie enige vorm van diskriminasie, kuberafknouery, godsdienstige onverdraagsaamheid, haatspraak en neerhalende taal, of enigiets wat die waardigheid van ‘n mens aantas nie, goedkeur nie.”
Volgens COSAS kon die graad 9-leerder in twee weke nie skool bywoon nie, weens trauma wat sy deur beweerde rassisme en kuberboeliegedrag ervaar het.
“As COSAS in die Wes-Kaap maak ons altyd seker dat die skoolomgewing bevorderlik is vir die kultuur van onderrig en leer,” sê Mphumzi Giwu verder.
Die groep het ‘n veldtog, genaamd “Leer Sonder Vrees”, bekendgestel wat kwessies soos rassisme, boelies en geslagsgebaseerde geweld aanspreek.
“Ons is baie ontsteld nadat ons ‘n prokureursbrief van die voormalige graad 9-leerder by die skool se familie-prokureur ontvang het, wat die wyse waarop die skool hierdie saak hanteer het, bevestig,” sê COSAS verder.
COSAS meen dat die skool se gedragskode duidelik is oor dissiplinêre prosesse wat gevolg moet word indien die gedragskode oortree word.
COSAS het die skool besoek en die onmiddellike skorsing van die beweerde oortreder geëis, en geëis dat die oortreder geleer word hoe om op te tree en mede-leerders te behandel.
Mphumzi Giwu het aan AfriNuus bevestig dat die studentegroep vanaand ‘n verklaring oor die voorval sal uitreik, maar dat daar beplan word om die skool weer Woensdag te besoek.