Die 15-jarige leerder aan die Hoërskool Daniëlskuil in die Noord-Kaap, wat ‘n skeidsregter en onderwyser ná ‘n sportwedstryd aangerand het, is vir 24 wedstryde deur die Griekwaland-Wes-rugbyunie geskors.
In ‘n verklaring sê die rugbyunie dat dit geen ander keuse gehad het as om die speler ná sy tugverhoor te skors nie.
Die skool het nie dadelik kommentaar gelewer nie.
AfriNuus het vroeër berig van ‘n voorval wat gedurende ‘n sportwedstryd in Mei-maand tussen Hoërskool Daniëlskuil en Hoërskool Kathu in die Noord-Kaap plaasgevind het.
‘n Video het opslae op sosiale media gemaak van ‘n skeidsregter wat aangerand word ná die afloop van ‘n rugbywedstryd.
In die video kan gesien word hoe ‘n onderwyser aan die Hoërskool Daniëlskuil, wat ook ’n skeidsregter van die Griekwaland-Wes-skeidsregtervereniging is, deur ondersteuners aangerand is.
Sydney Stander, provinsiale onderwyswoordvoerder, het op 30 Mei bevestig dat die skeidsregter deur ‘n hulpafrigter geslaan is, waarna twee 15-jarige leerlinge betrokke geraak het.
Die bakleiery het uitgebreek omdat die ondersteuners en leerlinge glo nie tevrede was oor die skeidsregter se hantering van die wedstryd nie.
Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) ondersoek ook ‘n saak van aanranding met die doel om ernstig te beseer.