T4 Education het vanoggend in samewerking met Templeton World Charity Foundation, Accenture en American Express hul top 10-kortlyste vir die Wêreld se Beste Skoolprys aangekondig.
Die Wes-Kaapse regering sê dit is verheug om aan te kondig dat nie een nie, maar twee skole, genomineer is in die top tien-kortlys vir die kategorie: “Teëspoed Oorkom / Overcoming Adversity”.
Pinelands North Primary School en West End Primary School is genomineer en sal nou meeding met agt ander skole in hul kategorie van Australië, Maleisië, Indië, Uganda, Brasilië, Jamaika, Kenia en Nigerië, vir die R800 000-prysgeld vir hul kategorie.
Hulle sal ook die geleentheid kry om hul beste praktyke en innoverende benaderings oor hoe om teëspoed te oorkom, op ‘n wêreldplatform ten toon te stel.
Premier Alan Winde en provinsiale minister van onderwys, David Maynier, het vanoggend albei skole besoek om die wonderlike nuus aan hul skoolgemeenskappe aan te kondig.