LUR vir Onderwys in KwaZulu-Natal (KZN), Kwazi Mshengu, sê dat sy departement hartseer is oor die nuus van ‘n leerder aan die Hoërskool Nombika wat na bewering haar eie lewe geneem het.
Die oorledene was onlangs in die nuus weens ‘n probleem met haar skool rakende tradisionele kleredrag.
Die Departement het ingegryp waarna die leerder wat geskors was teruggekeer het skool toe.
“Die departement wil graag sy meegevoel aan haar familie en diegene na aan haar betuig,” sê LUR Mshengu.
Volgens die Kringbestuursentrum (CMC) het die leerder skool toe gegaan om haar Junie-eksamens af te lê, wat verlede week Woensdag geëindig het.
Die Departement kon nie vasstel wat daartoe gelei het dat die leerder ‘n besluit sou neem om haar eie lewe te beëindig nie.
Die ILembe-distriksdirekteur het ‘n span na haar familie gestuur om die omstandighede rondom haar ontydige dood vas te stel.
AfriNuus verneem dat die oorledene inderdaad ’n 15-jarige leerling was wat selfmoord gepleeg het nadat sy glo uit haar skool geskors is omdat sy tradisionele sangoma-drag gedra het.
Die meisie het die nuus gemaak toe sy onthul het dat sy sedert Maart nie skool toe was nie weens die probleem met haar kleredrag.
“As Departement van Onderwys in KwaZulu-Natal wil ons graag ons meegevoel aan haar familie, skool en vriende betuig, en ons bid dat God hulle krag sal gee gedurende hierdie moeilike tydperk,” het LUR Kwazi Mshengu gesê.
Let wel: AfriNuus het nie voorheen oor die storie berig nie.