Desiree van der Walt, die voorsitter van die DA Vrouenetwerk in Limpopo, sê sy sal skriftelike opvolgvrae aan die minister van basiese onderwys (DBO), Angie Motshekga, voorlê om vas te stel waarom daar ‘n groot verskil tussen die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se misdaadstatistieke en swanger leerders in die Limpopo-provinsie is.
Tans is daar 11 287 leerders swanger in die provinsie, volgens ‘n antwoord deur Motshekga op ‘n vraag deur die DA in Junie 2022. Hierdie getalle is vir meisies tussen 10 en 19 jaar, tussen April 2021 en Maart 2022.
Slegs 4 314 seksuele misdrywe – verkragtings, seksuele aanranding, poging tot verkragting en kontak seksuele misdrywe – is in Limpopo aangemeld, volgens die misdaadstatistiekvrystelling vir dieselfde tydperk.
In ‘n poging om tienerswangerskappe in skole hok te slaan en statutêre verkragting te voorkom, het die Departement van Basiese Onderwys (DBO) in Desember 2021 die Basiese Onderwys Swangerskapbeleid ingestel waardeur skole verplig word om ‘n polisieverslag in te dien indien ‘n meisie onder die ouderdom van 16 jaar swanger raak.
“Hierdie beleid is gekoppel aan bestaande wette wat ons kinders beskerm en ons is bekommerd dat baie gevalle steeds nie by die SAPD aangemeld word nie,” voeg van der Walt by.
“Aangesien skole verplig is om swangerskappe van alle meisies van 16 jaar of jonger en verkragtings van leerders waar opvoeders die beweerde beskuldigde is by die SAPD aan te meld, sal ons gedetailleerde vrae oor elke ouderdomsgroep vra, hoeveel van hierdie gevalle by die SAPD aangemeld is en wat die gevolge vir nie-aanmelding is,” sê van der Walt verder.