Dr. Eileen Carter, die hoof van die Menseregtekommissie (MRK), het bevestig dat dié kommissie op 2 Julie 2022 kennis geneem het van die beweerde groepverkragting van ‘n 13-jarige leerder deur graad 12-leerders by die Hoërskool Maria Louw in Komani in die Oos-Kaap.
“Op grond van die erns van die bewerings, sowel as die dringende behoefte om te verseker dat die veiligheid van kinders gehandhaaf word, het die Kommissie gister ‘n terreininspeksie by die skool gedoen,” sê Carter in ‘n verklaring.
Die Kommissie sê dit sal ‘n volledige ondersoek rakende die voorval van stapel stuur, terwyl wetstoepassingsagentskappe toegelaat word om sy eie prosesse af te handel.
Die Kommissie het die behoefte beklemtoon vir leerders om dringende berading te ontvang, en dat daar na die geestesgesondheid van alle leerders omgesien word.
“Die Kommissie wil verder kommer uitlig rakende veiligheidsmaatreëls by skole en koshuisfasiliteite tydens beurtkrag. Ons neem verder kennis van die belangrikheid om vakante poste soos koshuistoesighouers, superintendente en koshuispersoneel te vul, sodat doeltreffende toesig gehou kan word oor die veiligheid van die leerders onder hul sorg.”
Die kommissie meen verder dat skole ‘n veilige ruimte vir alle kinders moet word.
“Die Kommissie is bewus van die realiteit wat baie meisiekinders in die gesig staar, aangesien daar ‘n ruimte geskep word vir verhoogde seksuele teistering en geweld wat deur medestudente en soms opvoeders in skole en koshuise gepleeg word.”
Die Kommissie sê dat meisiekinders aan sulke voorvalle onderwerp word, wat nie net hul basiese menseregte op waardigheid en gelykheid skend nie, maar ook hul reg om vry te wees van geweld en hul regte op basiese onderwys.
Die Kommissie moedig verder die rapportering van enige en alle vermoedelike mishandeling van kinders by die naaste polisiestasie aan.