Deur Ilette Coetzer (LiG)
Die koronaviruspandemie het die wêreld op vele gebiede uitgedaag en baie mense het ongekende verliese gely.
Sonder dat ons daarvoor gevra het, moes ons vele lesse leer. Vra enigeen wat in dié tyd naby ’n hospitaal se intensiewesorgeenheid was wat hy of sy geleer het, en minstens een van die antwoorde sal wees: “Ek het geleer wat regtig saak maak en wat nie.”
Vra verder uit, of dink doodgewoon self daaroor, en jy identifiseer dalk een of meer van die sake hieronder. En dalk help die raad jou.
Negatiewe denke
Fokus op wat jy het, eerder as op jou probleme en op dit wat jy nié het nie. Niemand se lewe verloop altyd seepglad nie. Jy is nie ’n mislukking bloot omdat jy tans sukkel of ’n probleem of twee ondervind nie.
Onnodige “drama”
Sommige mense hou baie daarvan as daar ’n bietjie “drama” in hul lewe is. Jy hoef nie ’n slagoffer daarvan te wees nie. Moenie dat ’n ander se primadonna-giere jou energie tap nie. Jy hoef nie in ’n toksiese verhouding te bly nie. Of dit nou ’n lewensmaat, ’n vriendin of ’n familielid is, probeer tog verhoed dat ’n verhouding jou lewensvreugde steel. Wérk daaraan, as jy kan.
Ek wil dit hê!
Jy kan nie altyd alles kry wat jou hart begeer nie. Wees dankbaar vir wat jy het. Kyk net ’n slag om jou, en sien hoeveel jy regtig het. En hoeveel mense veel, veel minder as jy het.
Het jy nie dalk ook veel minder dinge aangeskaf sedert die pandemie uitgebreek het nie? En wat het jy daarvan oorgekom?
Hou op om jou met ander te vergelyk
Jy kan net met jouself meeding. Anders gestel: Jy kan jou net met jouself vergelyk. Daar sal in elk geval altyd iemand wees wat mooier en slimmer en ryker en maerder is as wat jy is. Moenie dat wat ander oor jou dink jou geluk bepaal nie. Maak dit regtig saak wat hulle van jou hare of jou klere dink?
Hou op tob oor destyds se foute
Kasty jy jou steeds oor iets wat jare gelede gebeur het? Jy kan tog nie die verlede verander nie … Jy het destyds foute gemaak. Jy het besluite geneem op grond van die feite tot jou beskikking. Om nou daarop terug te kyk en jou slim te hou met die voordeel van nabetragting, is regtig nie … nou ja, slim nie. Leer uit daardie foute, moenie dit herhaal nie, en moenie dat dit jou toekoms bepaal nie.
Verkeerde lewenskeuses
Die lewe kan lank word as jy verkeerde besluite neem. Moenie jouself straf en in ’n beroep of ’n verhouding bly as dit nie werk nie. Jy is nooit te oud om veranderinge aan te bring nie. Jy mág weer kies.
Die berig is oorspronklik op LiG se webtuiste gepubliseer en met vergunning hier geplaas.