Deur Helene Meissenheimer (Kerkbode)
Die Covid-19-pandemie het dit nog moeiliker gemaak om mense te help wat nuwe organe nodig het. Ds Leendert Wijnja (33) kon, danksy ’n nuwe hart, onlangs sy eerste 10km wedloop hardloop. Hy hoop sy storie sal mense inspireer en ook herinner hoe belangrik orgaanskenking is.
Dit is ’n lewenslustige jong man met wakker oë agter ’n ligteraam bril en ’n breë glimlag wat op ’n winderige Oktoberoggend oorkant Kerkbode agter ’n buitetafeltjie inskuif by ’n Kaapse koffieplek. Die rede vir sy zest for life klop reëlmatig soos ’n metronoom onder sy grys T-hemp met ’n rooi hart waarbo geskryf staan ‘And … I’m back’.
Hy draai om en wys wat staan agterop: ‘Recycled parts inside’.
In sy geval. ’n Gesonde hart.
Iets wat Leendert nie geken het nie tot verlede November toe hy op 32 ’n nuwe hart gekry het.
Dieselfde hart wat dit vir hom moontlik gemaak het om binne ’n jaar sy eerste 10 km padwedloop te kon hardloop saam met sy tweelingbroer Anthonie en swaer Mike Eybers. Dr Willie Koen, Leendert se hartoorplantingchirurg, vertel sy hart het amper gaan staan toe hy hiervan hoor, want dit is nogal ’n rare prestasie vir iemand om so kort na ’n hartoorplanting iets soos ’n 10 km padwedloop aan te vat, maar voeg hy by, hy is baie trots op Leendert.
Vir Leendert was die wedloop een groot lekker. “Ek het elke oomblik geniet,” glimlag hy breed en kan nie die plesier wegsteek dat sy broer, ’n ervare langafstandatleet, nie by hom kon byhou nie.
Vir hierdie wedloop het Leendert dieselfde T-hemp as vandag gedra. Hy het dit laasjaar laat maak om sy hartoorplanting te vier.
Klik hier om meer op Kerkbode se webtuiste te lees.
Die berig is oorspronklik deur Kerkbode gepubliseer en met vergunning hier geplaas.