Deur Faani Engelbrecht (Kerkbode):
In ’n tyd waarin Plet Rage en Margate die toon aangee as dié plekke waarheen matrieks na hulle eindeksamen stroom, is daar alternatiewe wat jy met vrymoedigheid vir ’n matrikulant kan aanbeveel. In die Wes-Kaap is daar nog twee oor: by Heroldsbaai en Noordhoek. Ds Faani Engelbrecht vertel meer.
Ek wonder of jy weet wanneer die eerste “skoolverlaterskampe” gehou is? Ons het regtig nie ’n idee nie – maar het jy geweet dat daar slegs ’n paar oorgebly het? Die verste wat hierdie idee nagespoor kon word, is 1966. Dalk ken iemand die geskiedenis beter? Baie dinge het oor die jare verander, maar een ding staan vas, dit is ’n reuse-avontuur wat vir matrieks wag! En nee, die woord ‘kamp’ word nie hier gebruik nie! Kamp is iets wat jy met ’n tent doen! Hierdie week is ’n volwaardige 5-ster wegbreek, ’n vingerleklekker fees slegs vir die Klas van 2022!
Volgens ds Scherlize van der Merwe is een van die geheime van die Fees dat die personeel en aanbieders, almal self as matrieks daar was! “En daar is nie ’n program wat deur ’n fluitjie wat blaas, gejaag word nie – dis eerder die skep van ruimtes en geleenthede waar ons saam kan ontspan na die jaar van spanning en druk wat verby is, waar ons die Here se teenwoordigheid kan beleef!”
Dalk is die Matriekfees die ideale geleentheid vir die matrikulant in jou lewe? As jy wil inskryf, gebruik hierdie skakel: https://forms.gle/ndZBqwiStWnLY2Q38