Deur Fourie Rossouw:
Soms moet ’n mens uit die stad uit kom. Stede is oor die algemeen goed en geen samelewing (antiek of modern) kan daarsonder klaarkom nie. Dis immers waar die dinge gebeur en die spreekwoordelike tekkie op reëlmaat die teer tref.
Maar elke mens weet, dat g’n mens kan leef tussen teer en beton alleen nie. Ons oorsprong is immers in ’n tuin iewers tussen die Hoëveld van Gauteng en suide van Irak waar die Tigris and Eufraat ontspring.
So vat ons toe pad in die rigting van ’n dorpie wat nog stofstrate het. Ons pak lig, sover mens kan met twee kleuters. In Stanford aangekom, pak ons uit en kies koers in die rigting van ’n ouskool dorpsparkie. Met dapper en stapper volg ek en my vrou ons twee snuiters wat in die strate ry asof daar nie verkeersreëls bestaan nie.
En toe gebeur die betowering van die platteland met ons seuntjie op die mees aardse manier denkbaar. By een van die systraatjies waar die teer ophou en die grond begin, draai ons links. Vir die eerste keer in sy kortstondige lewe ry hy met sy fietsie op ’n regte-egte stofstraat. Dit was nie vyf meter nie, toe kap hy sy heel eerste es. Met een sy voet op die aarde en die ander een op die pedaal, kyk hy oor sy skouer en pieringoog-skaterlag hy oor die ontdekking van ’n nuwe wêreld wat vir hom oopgebreek het.
En so moet dit ook wees met God. Ons het meer gereeld ’n spiritualeit van stof en grond nodig. Nie net om ons te aard nie, maar om ons te laat herontdek dat ons na Hom aard. Die bewegende, spelende, kreatiewe, skeppende Een.
Sela.