Lees ons volledige Inspirasie-reeks deur Fourie Rossouw hieronder:
Dit is lekker leesstof. Die titels sluit in: ’n Stofstraat is vir esse kap, Tussen die clivias lê hy nou, Sy naam was Percy, Teleurstelling op Tafelberg, Om te roep soos Piet-my-vrou, Die dood van die Plataan, November, Genoeg, Ons langtafel lyk nie soos in die prentjie nie en Prikkels.
’n Stofstraat is vir esse kap
Soms moet ’n mens uit die stad uit kom. Stede is oor die algemeen goed en geen samelewing (antiek of modern) kan daarsonder klaarkom nie. Dis immers waar die dinge gebeur en die spreekwoordelike tekkie op reëlmaat die teer tref.
Maar elke mens weet ook dat g’n mens tussen teer en beton alleen kan leef nie. Ons oorsprong is immers in ’n tuin iewers tussen die Hoëveld van Gauteng en suide van Irak waar die Tigris and Eufraat ontspring.
So vat ons toe pad in die rigting van ’n dorpie wat nog stofstrate het. Ons pak lig, so lig soos jy kan met twee kleuters. In Stanford aangekom, pak ons uit en kies koers na ’n ouskool dorpsparkie. Met dapper en stapper volg ek en my vrou ons twee snuiters wat in die strate met hulle fietse rondry asof daar nie verkeersreëls bestaan nie.
En toe gebeur die betowering van die platteland met ons seuntjie op die mees aardse manier denkbaar. By een van die systraatjies waar die teer ophou en die grondpad begin, draai ons links. Vir die eerste keer in sy kortstondige lewe ry hy met sy fietsie op ’n regte egte stofstraat.
Dit was nie vyf meter nie, toe kap hy sy heel eerste es. Met een sy voet op die aarde en die ander een op die pedaal, kyk hy oor sy skouer en pieringoog-skaterlag oor die ontdekking van ’n nuwe wêreld wat vir hom oopgebreek het.
Só moet dit ook wees met God. Ons het meer gereeld ’n spiritualiteit van stof en grond nodig. Nie net om ons te aard nie, maar ook om ons te laat herontdek dat ons na Hom aard. Die bewegende, spelende, kreatiewe, skeppende Een.
Sela.
Tussen die clivias lê hy nou
Hy was so lig soos asem toe ek hom tussen die clivias optel en kar toe dra. Vir maande het ek met hom geraas omdat hy alewig my mooiste bedding as ’n lêplek gekies het. Maar teen daardie tyd was hy so doof soos ’n kwartel en so hardkoppig soos net ’n ou hond kan wees. Ek het hom laat gaan. Hy was immers besig om die laaste dae van sy lewe uit te leef.
Soms kom die dood soos ’n dief in die nag, maar vir ’n hond so goed soos hy, het dit geduldig gewag. Wat aanvanklik soos dae gelyk het, het maande geword en toe die clivias uiteindelik moes blom, was die meeste van hulle moeg gebeur teen ’n hond wat van kleins af gesukkel het om tot rus te kom.
Ek het al langs menigte grafte gestaan om troos te bied uit woorde van heilige oorsprong. Maar g’n mens se afsterwe kon my voorberei vir my hart se seer toe my geliefde brak sterf nie. Die veearts het aangebied om hom van my hande te neem, maar ek het reeds vir hom ’n gat onder die suurlemoenboon gegrawe. In ’n ou kombers het ek hom toegedraai en hom op die klam leemgrond neergesit en die gat toegegooi. Twee clivias het ek by die kop van sy graf geplant. Nou waak hulle soos engele oor sy laaste lêplek.
Vier seisoene is reeds verby en daardie twee clivias blom mooier as enige ander in my tuin. Gelowiges is reg, daar ís lewe na die dood.
Sela.
Sy naam was Percy
Almal op die dorp het hom geken. Deur die dag het Percy by elke winkel en besigheid ingeloer. Praatjies met enige mens gemaak. Van Wellington se who’s who tot die kleinste onder ons. Hy en sy broer was weggooikinders uit die Klein-Karoo. Teen die tyd dat hulle twee ’n veilige tuiste in die arms van ’n kinderlose moeder gevind het, was die skade aan sy ontwikkeling reeds gedoen. Maar, al het sy intellek en ander vermoëns agterweë gebly, was sy hart ongeskonde. Ek wil dit waag om te sê hy was so na aan heilig soos g’n ander Bybelkarakter nie, naas Jesus. Maar so waaghalsig sal ek nie wees nie. Kom ek berus dan by ’n meer geloofwaardige byvoeglike naamwoord vir Percy se hart: onskuldig.
By die kerkkantoor het hy gereeld kom inloer. Een Vrydag voor toemaaktyd vertel die skriba vir hom dat ons Sondag nagmaal hou. “Wat’s dit?” vra Percy onkundig. Sy vertel hom dat ons almal saam gaan brood eet en wyn drink.
Daardie Sondag sit Percy heel voor in die kerk. Hy luister na elke woord. Hy sing uit volle bors. Hy eet die brood. Hy drink die wyn. En ná die tyd vra hy by my ’n lift. Mank-mank loop hy soos Jakob met sy heup, wat hy jare gelede in ’n motorongeluk beseer het, tot by my kar. Ek maak vir hom die passasierskant se deur oop en let op dat hy ’n winkelbrood by hom het. Seker een van die nagmaalbrode wat ’n diaken vir hom gegee het, dink ek by myself.
Ná ’n ompad huis toe en met vele van Percy se praatjies agter die rug, stap ek by die voordeur in.
“Het jy gehoor van Percy?” vra my vrou. “Hy het gehoor ons gaan brood eet by die kerk en toe gaan koop hy een sodat hy nie met leë hande daar opdaag nie.”
Sela.
Teleurstelling op Tafelberg
Alles het volgens plan verloop, tot op kilometer tien. Vir sewe maande het ek, teen my jare lange laatslaapnatuur, douvoordag my tekkies aangetrek en die bergpaadjies aangedurf. Ek was vasbeslote om die ultramarathon op Tafelberg se eindstreep met vlieënde vaandels te bereik. Ek wou nie net klaarmaak nie; ek wou dit binne ’n sekere tyd hardloop.
Sommige ouens koop ’n Harley, party vroue vat ’n katelknaap, maar nie ek nie. As teenvoeter vir die dreigende middeljare wou ek my jonger self verkeerd bewys. Jare lank het ek lyf weggesteek as dit by oefen kom. Toe tref my veertigs my en ek ontdek die bekoring van berg- en plaaspaaie.
Die marathon op Tafelberg sou my eerste ultra gewees het. Ek het die ure ingesit. Bloed, sweet en drie pare tekkies later was ek slaggereed. Die week voor die wedloop het ons gesin die een ná die ander siek geraak. Eers ons kinders, toe my skoonouers en toe my vrou. ’n Oomblik het ek gedink ek is gespaar van die virus, maar toe begin ek op kilometer tien kramp en my hartklop skiet die hoogtes in. By die halfpadmerk was my gort gaar en die streep vir my in die sand getrek. Vanaf die agtersitplek van ’n vriend se kar het ek op pad terug huis toe die eindstreep uit die hoek van my oog gewaar.
Dit is wat dit is, sê ek vir my tranerige self toe ek later die oggend onder die stort staan. Jou teleurstelling gee erkenning aan die grootsheid van jou verwagting. Omhels albei en laat hulle dan saam met die stortwater en die trane by die drein af loop tot in die see. Dis nie die uitkoms nie, maar die reis wat jou ’n pelgrim van die lewe maak.
Sela.
Om te roep soos Piet-my-vrou
Die son se strale breek-breek tussen die bome deur. Die bergpaadjie kronkel-kronkel soos ’n antieke labirint. Ritmies vind my voete die heilige ritme van berggebede. Hoog in die bome begin die kokkewiet sy bekende deuntjie roep: Piet-my-vrou! Piet-my-vrou! Piet-my-vrou!
Wie is hierdie Piet na wie hy roep? Is sy vrou se naam Piet? Dalk is dit sy spesiale troetelnaam vir sy lewensmaat, liefderik verkort van Petronella af. Maar hoekom roep hy so aanhoudend? Het sy dan ophou luister? Of het sy die pad gevat met ’n ander kokkewiet? Hulle is immers geneig tot poligamie, verduidelik die voëlboek op my boekrak.
Of miskien is dit nie sy vrou na wie hy roep nie, maar sy vriend Piet. Dié help hom om sy vrou te soek. Terwyl Piet in die een boom soek, kry Kokkewiet haar in die ander boom. Roep hy uitbundig van vreugde soos iemand wat hom verniet bekommer het? Of roep hy uit desperaatheid met woorde wat ontbreek terwyl hy in duie stort, wagtend op sy maat se hulp en bystand?
Hoe meer die bergpaadjie my laat kronkel al om die Kokkewiet se geroep, hoe meer raak dit vir my duidelik dat Kokkewiet ’n treurmare sing. Sy geroep is te aanhoudend, te knaend en te onverpoos om ’n lied van dank en lof te wees. Dis uit ’n diep verwonding wat hy roep.
En só roep ons almal die een of ander tyd. Geseënd is dié wat in daardie oomblik die naam van ’n Vriend op hulle lippe het.
Sela.
Die dood van die Plataan
Die stomp wat van die boom oorgebly het, is nou wit geverf en met malvas in blompotte getooi. “So kitsch,” mompel ek by my buurman se hek verby. Voor hy daar ingetrek het, was die majestueuse plataan, wat al dekades lank sy stempel op ons woonbuurt afgedruk het, die kenmerk van dié huis se vooraansig. In grendeltyd het die vorige bure ’n groot swaai in die boom gehang. Hulle kinders het ure lank by daardie boom gespeel. Ons twee spruite was so jaloers en moes maar tevrede wees met ’n trampolien en ’n nederige sandput.
Met die draai van die seisoen het die plataan se heldergroen in skakerings van geel, bruin en rooi verander. Weke aaneen het die Kaapse noordwestewind die groot, kenmerkende plataanblare oor die vibracretemuur tussen die twee erwe tot in my agterplaas gewaai. Jaar ná jaar, kruiwa vir kruiwa, het my komposhoop gedy weens die gulhartigheid van dié ou boom.
Maar een oggend, toe ek op by my agterstoep gaan staan met ’n koffie in die hand, was die mans met die blou oorpakke reeds hoog in die takke. Toe ek later by die huis ’n draai maak, was die boom weg. Binne ure was generasie op generasie in bloeiende jaarringe blootgelê.
Met die aanbreek van ’n nuwe week daag my tuinier oudergewoonte kwart voor agt op ’n Maandag by my huis op. Saam met sy koffie, beduie ek hom in die rigting van die nuwe uitsig van ons agterplaas. “Nou hoef ek nie meer so baie kruiwa te stoot nie,” sê hy sonder om sy oë af te haal van die leë gat in die lug waar ’n pragtige boom eens op ’n tyd gegroei het.
Sela.
November
“Oktober is die nuwe November …” sê hy nadat ek hom van my vloermoer by die wynrak vertel het.
Ek weet nie hoekom dit my so ontstel dat die pryse van wyn nie behoorlik aangedui word nie, maar toe die teller met die skroefdopbottel in haar hand my inlig dat dié wyn R180 kos terwyl ek op soek was na iets lig (en goedkoop) vir ’n middel-van-die-week-braaitjie, het ek my koel verloor. Later daardie selfde middag het ’n soortgelyke emosie my oorval toe my buurvrou flikkerligloos voor my indraai.
“… en hierdie tyd van die jaar is mense se nerwe maar dun,” voltooi hy sy sin.
Dit laat my effe beter voel, maar ek besef ook die gewone maand-van-die-jaar-verskoning raak uitgedun. Die meeste van ons ry daai treintjie die hele jaar en ek moet sê, dit begin nou beknop raak in dié betrokke kompartement. Dis tyd om af te klim, asem te skep en op eie stoom die voetslaanpad na my binnehof te vat. Die woord selfondersoek impliseer immers dat ek self die ondersoek sal lei. G’n mens kan dit namens my doen nie.
Die duiwel dobber ook nie op ’n pool noodle met ’n skemerkelkie in die hand nie; daarom sal g’n oppervlakkige verskoning vir ’n openbare vloermoer deug nie. Nee, hy draai daar onder in die donker rond en wag vir die volgende keer dat ’n oormoeg-onderbetaalde-moeder-van-drie die regte prys van ’n bottel gehoute Chenin Blanc aan my as die kliënt moet kommunikeer. Dis tyd dat ek hom daar op die bodem ontmoet en vra wat sy storie is.
Sela.
Genoeg
Ons dogtertjie is oortuig sy het nie genoeg speelgoed nie. Dis haar argument om haar ma te oorreed om die kas waarin die Kersfees- en verjaarsdaggeskenke toegesluit is oop te maak. Haar argument val gelukkig op dowe ore. My vrou het ’n oog vir ’n winskopie en in die loop van die jaar vul sy die kaste aan. In die koskas staan bottels tamatiesous en tangy mayonnaise by die liters. In die middel van die winter koop sy vir my ’n swembroek en vir die kinders swemhanddoeke. Haar Kersinkopies is klaar nog lank voordat Boney M in die winkels opklink. As sy iets sien wat sy dink vir ’n verjaarsdagsgeskenk kan kwalifiseer, koop sy dit voetstoots en bêre dit in die kas, saam met die Kersgeskenke. In daardie einste kas bêre sy ook al die mooi geskenkpakkies wat vriende en familie gebruik het om vir ons geskenke in te gee.
In grendeltyd, toe die drankverbod sonder vooraf waarskuwing herhaaldelik ingestel is, het ek ’n soortgelyke strategie met wyn ontwikkel. Nadat ons weke lank droëbek moes sit omdat ek geweier het om ten duurste by ons buurman wyn te koop, het ek myself belowe die regering sal my nooit weer so onkant betrap nie. Soos my vrou se geskenkekas, staan my wynrak gereed vir enige geleentheid.
Ek kan doen met ’n groter wynrak, besluit ek anderdag. Of selfs ’n keldertjie waarin ek kan sit, omring van wyne wat ek self met die hand uitgesoek het. Of, nog beter, my eie klein landgoed met my eie wynreeks. Daar sal toekennings wees en hulde gebring word aan my wyn wat ten duurste op veilings verkoop word.
G’n wonder ons dogtertjie voel so oor haar speelgoed nie.
Sela.
Ons langtafel lyk nie soos in die prentjie nie
’n Paar jaar gelede het ek en my vrou vir ons ’n langtafel gekoop. Groot genoeg sodat agt mense daarby kan aansit sonder om in mekaar se slaai te krap. Toe ons dit in die meubelwinkel se vertoonkamer sien, was ons dadelik verlief. In sulke winkels, net soos in die tydskrifte, lyk alles immers perfek.
Ons tafel het lanklaas só gelyk. Soos ek nou hier sit en tik, lê daar ’n boks tissues, ’n speelgoedverkyker, ’n leë waterglas van die vorige dag en een van Barbie se skoene op die langtafel.
Ons huis is allermins ’n varkhok, maar op enige gegewe dag is dit ver verwyderd van die bekoorlike wêreld van vertoonkamers en huistydskrifte. Ek leer nog om daarmee vrede te maak. Gelukkig lyk ons vriende se huise ook meer soos ons s’n as soos die huise in die prentjies. Maar soms kuier ons by vriende van vriende en bevind ons in huise wat jou asem wegslaan. Dit kos my gewoonlik ’n oomblik of twee om tot verhaal te kom, veral as hulle kinders net so oud soos ons s’n is. “Hoe kry hulle dit reg?” sal ek onderlangs mompel vir my vrou, wat net so groen soos ek is.
Nadat die vleis gebraai en die kinders gevoed is, beland ons dan ook by ’n langtafel, net soos met die kuiers in ons eie huis, maar met ’n paar verskille. Natuurlik. Die wynglase is ’n bietjie dunner en die wyn ’n bietjie duurder. Die slaailepels is handgemaak deur ’n vriendin in die Paarl en die kerse op die tafel kom van ’n boetiekwinkel in Greyton. Die gesprekke is egter dieselfde. Ons praat oor ons kinders, ons werk, ons vrese en ons drome. Van beurtkrag tot inverters, van politiek tot poeding, van God tot al die alledaagse goeters wat van sy genade getuig.
Of jou langtafel nou lyk soos in die prentjie of nie, dis die mense rondom die tafel en die gasvryheid waarmee hulle ontvang word, wat die waarde van jou tafel bepaal.
Sela.
Om in die ry te staan vir botter
Een van die groot winkels op ons dorp het ’n make-over gekry. Die laaste keer dat ek daar was, wou ek ’n koek koop vir ’n personeellid wat verjaar het. Maar tussen die sjokolade-ystervarkies en die custard eclairs het ’n muis vir my gesit en loer. Met leë hande is ek daar weg, reguit na hulle kompetisie toe.
Kort daarna kry die winkel ’n nuwe bestuurder met groot nuwe planne wat gelukkig nie knaagdiere insluit nie. Weke lank het die winkel sy deure vir die publiek toegemaak. Daar binne is gekap en gebreek, geverf en gebou. Van die vloere tot die tellers, álles was nuut oorgedoen.
In die opbou tot die groot openingsdag het die afslagpryse in ons plaaslike koerant verskyn. “Het jy gesien wat kos die botter?” vra ons kerk se koster terwyl hy en die skriba deur die volkleur-advertensiekoerant blaai. “Die brood is net R9!” beaam sy. En tussen hulle twee begin hulle planne maak om verlof in te sit, want die rye by die winkel staan glo tot by die deure van hulle kompetisie. Soos by Binnelandse Sake wanneer ek huwelike registreer, dink ek by myself. En ek besluit net daar op die plek dat ek nie vir botter in ’n ry gaan staan nie, al kos dit my wat.
Daardie Sondag kom my vrou by die huis nadat sy by die einste winkel brood en melk gaan koop het. Haar humeur klop-klop aan die plafon van haar godsdienstigheid. Sy moes op die verste punt van die parkeerarea sukkel om ’n parkeerplek te kry. Orals drom mense saam om by die winkel in te kom. “Dis belaglik!” mompel sy en plak die inkopiesakke op die kombuistafel neer. “Dat mense so te kere gaan vir ’n bargain of twee.”
Later die aand lees ek op my foon dat brandstofpryse én die rentekoers weer weer skerp gaan styg. Ek dink nie mense staan in die rye vir die botter nie. Hulle staan in die rye, want hulle kan nie anders nie.
Sela.
Prikkels
Hy soek Weet-Bix met suiker, maar hy wil die melk kan sien. Sy soek van Mamma se sagtepap, maar dit moenie loperig wees nie. Én hulle wil dit voor die TV eet.
Dis ons twee kinders se antwoord op my vraag of hulle honger is. Ek het meer gedink in die rigting van ’n grondboontjiebotterbroodjie en ’n appel, maar hulle soek pap.
Soms skop ek teen die prikkels en gee vir hulle wat ek weet die gesondste opsie is, maar die meeste van die tyd is ek net te dankbaar dat ons twee kleuters eet, sonder te veel moeilikheid. Vriende van ons se kind reageer net op die aanbod van kaaskrulle en pienk melkies.
Op ’n keer toe Jesus oor gebed moes praat, het Hy ’n soortgelyke voorbeeld genoem. Watter pa sal vir sy kind ’n skerpioen gee as hy vra vir brood? Daar ís sulke ouers, maar hulle is in die minderheid. Die meeste ouers, selfs in hulle slegste oomblikke, is meer soos God as wat hulle dink. Want aan die einde van die dag wil jy maar net die beste vir jou kind hê. En jy sal alles in jou vermoë doen om dit reg te kry.
Soveel te meer as dit kom by God, was Jesus se argument. Ek, wat op my slegste net die beste vir my kinders wil hê, kan rus in die wete dat die Een wat die bron is van alles wat goed is, ook vir my net die beste wil hê.
As ek net sal ophou skop teen die prikkels van sy wil …
Sela.