Amor Venter (45), van Graafwater in die Wes-Kaap, het vandeesweek derde plek behaal in Clanwilliam Sakekamer se RSAM Opkomende Entrepreneur van die Jaar 2022-kompetisie.
Venter het in 2021 as ’n “side hustle” haar Hadassa Handgemaakte Kerse-onderneming op die been gebring.
Dit is ’n trots Suid-Afrikaanse produk met die doel om mense te inspireer om ’n verskil in die wêreld te maak deur soos ’n kersliggie te skyn.
“Hadassa Handgemaakte Kerse het begin met ’n droom,” vertel Venter. “Die Here het my ’n opdrag gegee om om ’n kers vir ’n hartsvriendin te maak.”
Venter het aan begin nie geweet hoe nie, en moes YouTube-video’s gebruik om te help om haar eerste kers te maak. Dít is waar haar passie vir kerse en Hadassa Handgemaakte Kerse gebore is.
“Wat Hadassa Handgemaakte Kerse uniek maak is die feit dat alles met die hand gemaak word, uit die gerief van my eie huis,” vertel Venter verder.
Ná die Covid-19-pandemie en inperking het sy besef dat ’n “side hussle” help met broodnodige inkomste en om haar droom uit te leef deur na-ure kerse te begin maak.
Die idee agter haar entrepreneuriese avontuur is dat “ons as mense as ’n liggie soos die kers moet skyn om ’n verskil in die wêreld te maak.”
Agtergrond oor die naam “Hadassa”
“Die naam wat op my hart gedruk het is ‘Hadassa’,” vertel Venter uit haar huis in Graafwater. “Toe ek die naam opsoek het dit gesê en ek haal aan: “Hadassa beteken mirt (‘n immergroen struik met pers blomme wat vir die maak van parfuum gebruik word). Mirte-takkies is ’n simbool van vrede en danksegging.”
Venter verduidelik verder dat sy kerse begin maak het en vir hartsvriende uitgedeel het. Haar bemarkingstrategie is “word of mouth”, alhoewel haar produkte sedertdien by talle winkels, insluitend House of Rooibos in Clanwilliam, verkoop word.
Groei van haar besigheid
Venter verkoop huidiglik haar kersreeks aan plaaslike padstalle in die Wes-Kaap, soos Veldskoendraai in Clanwilliam, Bokstal, De Tol en A La Maison in Riebeeck Kasteel. Dit is ook beskikbaar by House of Rooibos – met haar Rooiboskersreeks wat ’n trotse simbool van die Rooiboshoofstad is. Sy lewer verder kerse landwyd af.
Die kersreeks
“Ek werk in die Rooibosbedryf en ontmoet daagliks toeriste van regoor die wêreld,” vertel Venter, wat ook die bestuurder van House of Rooibos is.
Die volgende kerse is deel van haar reeks: Chai, Sitroengras Sandalhout, Vanilje en Vy met ’n kinkel.
Verder het Venter, deur haar passie vir Rooibos, ’n unieke produk van Clanwilliam waar sy werksaam is, besluit om dit in haar reeks te inkorporeer.
“Rooibos is uniek aan Clanwilliam wat die hoofstad van Rooibos is. Daarom voel ek dit was noodsaaklik om ’n manier te vind om Rooibos te inkorporeer,” voeg Venter by.
Haar kersreeks is ook in verskeie Rooibosgeure beskikbaar.
Venter se langtermyndoelwit is om Hadassa Handgemaakte Kerse regoor die land by nutsbesighede te verkoop, soos padstalle en om uiteindelik haar eie aanlynwinkel te begin.
Haar grootste droom is dat haar besigheid so kan groei dat sy werksgeleenthede in haar omgewing kan skep, mense kan bemagtig, maar om, die belangrikste van alles, hulle te laat besef dat alles uit die Here se hand kom.
Waar sien Venter haarself oor tien jaar sien?
“Ek wil glo dat Hadassa Handgemaakte Kerse ’n handelsmerk gaan word wat bekend gaan word as ’n kers met ’n verskil. Soos my slagspreuk lei: “Hoe ons lig moet skyn en ons die reuk van geregtigheid, reinheid, vrede en liefde moet uitdra’,” vertel Venter. “Met hierdie klein begin het ’n droom gegroei na ’n besigheid wat vir ander vrouens hoop kan gee en hulle kan inspireer om dieselfde te doen.”
Jy kan hier klik om Venter se kersreeks op House of Rooibos se webtuiste aan te skaf.
Jy kan Amor Venter ook direk by 082 521 6440 kontak of ‘n e-pos aan hadassacandles@gmail.com stuur. Haar Instagram kan by @hadassa_handmade_candles gevolg word.