Die aantal mense wat slaap onder bome en brûe en in flentertente langs paaie en hoofweë woon, word in Kaapstad as ’n “ontploffing” van haweloses beskryf. Maar, Christelike hulporganisasies soos MES, sien dat sterk vennootskappe en ’n holistiese benadering reeds begin om ’n verskil te maak in die aanspreek van hierdie komplekse probleem.
Sandy* is doodgeskiet op ’n Dinsdagaand terwyl sy besig was om pap te kook in haar opslaanhokkie naby Parow se treinstasie waar die treine nie meer stop nie.
Sy kies al jare lank om so te leef al bly haar ma en jonger broer in ’n woonstel skaars ’n blok weg. Haar ma maak haar twee jong kinders groot. Hulle is nou wees, want hulle pa is ook ’n paar maande terug aan kanker dood.
Sandy tel onder die Kaapse Metro se hawelosebevolking van sowat 14 000 mense, volgens ’n studie, The cost of homelessness: Cape Town. Drie plaaslike hulporganisasies, MES, U-Turn en Khulisa, het die studie vroeër vanjaar gepubliseer as deel van voortgaande samewerking. Dit in ’n stad met ’n bevolking van meer as 4 miljoen inwoners (10 jaar terug 4 005 015 volgens die 2011-sensus).
Haar storie teken ’n prentjie van hoe ’n komplekse begrip “haweloosheid” is. Iemand soos Sandy wat al jare op straat leef word beskou as “chronies haweloos”. MES en kie verduidelik in hulle verslag hoe langer iemand op straat leef, hoe moeiliker is dit om hulle te help om op die lange duur daarvan af te bly. Kaapstad het ’n baie hoë voorkoms van chroniese haweloosheid, volgens die studie. Sowat 50% van haweloses word as chronies bestempel, teenoor 5-25% van haweloses in ander lande.
Klik hier om meer op Kerkbode se webtuiste te lees.
Die berig is oorspronklik op Kerkbode se webtuiste gepubliseer en vergunning hier geplaas.