Kom, pak jou strandsak!
Die weer raak al hoe warmer en die Desembervakansie kom al hoe nader!
Dalk beplan jy om ʼn paar sonnige dae by die see deur te bring. Wonder jy wat om in jou strandsak te pak?
Van sonroom en sandale tot sambrele, daar is ʼn paar noodsaaklike items wat jy vir enige Suid-Afrikaanse vakansie sal benodig.
Hier is nege dinge wat jy beslis moet inpak:
- Waterbottels
- Sonroom
- ʼn Sonsambreel
- ʼn Gemaklike stoel
- Eetgoed in plastiekhouers
- ʼn Ligte koelsak
- Meer as een handdoek
- ʼn Klein noodkissie
- Lekker leesboeke
- Water, water, water!
Dis die een ding wat so baie mense vergeet om saam te neem strand toe. Pak genoeg water in om seker te maak dat jy nie dehidreer wanneer jy tyd in die warm son deurbring nie.
Pro-wenk: Vries jou waterbottel die vorige aand. Dit sal verseker dat jy yskoue water het om in te pak wat vir ʼn lang tyd verfrissend sal bly.
- ʼn Goeie sonroom
Ja, jy het ʼn bottel sonroom nodig! Dis maklik om te vergeet dat ons onder die Afrika-son leef. Moenie suinig wees hiermee nie, anders kom jy dalk met seer sonbrand huis toe. Pak sommer ook ʼn buisie lipsalf in om te verhoed dat die son jou lippe uitdroog.
Pro-wenk: Bêre jou sonroom in die yskas of sit dit in jou koelsak. Dit maak dit heerlik koud vir wanneer jy dit aanwend – ʼn welkome (dog tydelike) verligting van die dag se hitte!
- ʼn Sonsambreel
Dis belangrik dat jy nie heeldag in die son sit nie. Pak jou sambreel in vir ʼn bietjie skaduwee. Dit help ook om jou van die ergste wind te beskerm sodat alles nie vol sand waai nie.
Pro-wenk: Bring ʼn emmer saam strand toe, maak dit vol sand en anker jou sambreel daarin. Dis soveel makliker as om agter ʼn wegwaaiende sambreel aan te hardloop.
- ʼn Gemaklike stoel
Daar is niks wat jou dag by die see beter kan maak as ʼn lekker, gemaklike sitplek nie. Pak opvoustoele in wat maklik is om rond te dra.
Pro-wenk: Opslaan-kampstoele werk die beste by die see. Dis stewig, maklik om op te pak en het boonop ʼn gaatjie in die armrus om jou drankie veilig te hou.
- Eetgoed in plastiekhouers
Dit is nou eenmaal die waarheid dat swem ʼn mens honger maak! Pak vir jou lekker eetgoed in soos tjips of biltong maar onthou om dit in plastiekhouers te bêre dat dit nie vol sand word nie.
Pro-wenk: As plastiekhouers nie vir jou werk nie, bring ʼn paar wasgoedpennetjies om die pakkies toe te knyp en op só manier sandvry te hou.
- ʼn Ligte koelsak
Pak al jou waterbottels, drankies en eetgoed in ʼn koelsak. Kies een wat lig genoeg is dat jy dit maklik oor die sand sal kan dra. Niemand het lus vir swaar dra nie!
Pro-wenk: Is jy nie lus vir gesmelte ys in jou koelsak nie? Gebruik ballonne! Vul dit met water en vries dit die vorige aand om jou koelsak yskoud te hou. Wanneer dit smelt bly die water netjies binne-in die ballonne.
- Meer as een handdoek
Ten minste een om op te sit, een om mee af te droog en altyd nog ʼn ekstra (sandvrye) een indien jy dit nodig kry. Mens kan werklik nooit genoeg handdoeke inpak vir die strand nie!
Pro-wenk: Die beste manier om sand uit jou handdoeke te kry is om dit eers in die son te laat bak. Droë sand kan maklik uit ʼn handdoek geskud word.
- ʼn Klein noodkissie
Dis altyd goed om ʼn antibakteriese salf, pleisters of kopseerpille byderhand te hê wanneer jy see toe gaan. Met hierdie noodsaaklike items sal jy altyd jou stranddag kan geniet – ten spyte van ʼn onverwagse besering of twee!
Pro-wenk: Hou dit veilig in ʼn lugdigte Ziplock-sakkie om die sand en water uit te hou.
- Lekker leesboeke
Wat is nou beter as om op die strand te lê en te lees? Hier is drie boeke wat jy definitief hierdie Desember sal wil lees:
Kies die lewe! deur Ivor Swartz In hierdie boek kyk Ivor na sy eie depressie, sy eie hulpkrete en pleit dat ons geen mens oordeel vir die keuses wat hulle in hulle donkerste oomblikke gemaak het nie. Kry jou kopie! | Blinde mol of wyse uil? deur Susan Coetzer Susan Coetzer, bekende skrywer en spreker, help jou op haar skreeusnaakse maar eerlike manier om jou eie lewe te ondersoek en seker te maak dat jy met integriteit leef. Kry jou kopie! | Ongeskonde deur Alwyn Uys Kom vind inspirasie in Alwyn se storie! Hy vertel hoe hy met genade van bo opgestaan het en besluit het om aan te gaan met sy lewe na sy tragiese ongeluk en daaropvolgende terugslae. Kry jou kopie! |
Steeds nie jou leeslus bevredig nie? Kom ontdek Bybel-Media se wye reeks boeke! Jy sal beslis iets kry om by jou strandsak te voeg.