Dis amper Kersfees! Hierdie tyd van die jaar begin die lewe stiller raak en ons het tyd om na te dink oor alles wat in 2022 gebeur het.
Nou is die perfekte tyd om te waardeer wat ons het deur iets terug te gee aan die gemeenskap. Gelukkig is daar ’n verskeidenheid maniere om hierdie Kersseisoen goed te wees vir ander.
Hier is 7 maklike maniere om ’n verskil te maak:
- Doen vrywilligerswerk in jou gemeenskap.
- Ondersteun klein, plaaslike besighede.
- Skenk klere en komberse aan NRO’s wat dit nodig het.
- Maak ’n bydrae om Kersgeskenke aan kinders uit te deel.
- Koop kruideniersware vir mense wat dit nie kan bekostig nie.
- Wees vrygewiger met jou tips vir kelners, petroljoggies, en so meer.
- Bemoedig mense in aftreeoorde met boeke.
- Doen vrywilligerswerk in jou gemeenskap.
Met net een of twee ure kan jy ’n reuse-verskil maak. Help jou plaaslike diereskuiling deur kos, speelgoed en komberse daar af te lewer of aandag aan die diere te gee.
Jy kan ook kruideniersware vir ’n sopkombuis koop of vir kinders in kinderhuis gaan boeke voorlees. Nog ’n wonderlike manier om terug te gee is om te gaan kuier by mense in aftreeoorde wat dalk in die Kerstyd alleen sal wees.
Kyk gerus na jou gemeenskap se NRO’s vir geleenthede waar jy kan help.
- Ondersteun klein, plaaslike besighede.
Die pandemie is skaars agter die rug of ons is midde-in die beurtkrag-krisis. In hierdie uitdagende omstandighede is dit die klein besighede wat die meeste sukkel. Maak ’n verskil deur hulle hierdie Kersfees te ondersteun.
Koop jou Kersgeskenke by klein, plaaslike besighede soos jou dorp se bloemis, biltongwinkel, geskenkwinkels en so meer. Jy kan wonderlike en unieke geskenke aan jou geliefdes gee en terselfdertyd klein besighede help om hulle deure oop te hou.
- Skenk klere en komberse aan NRO’s wat dit nodig het.
Desember is die perfekte tyd om jou huis skoon te maak en die kaste reg te pak. In die proses sal jy dalk ’n hele paar items ontdek wat jy nie meer gebruik nie. Moet dit nie weggooi nie! Jy kan dit skenk aan NRO’s en vrywilligersorganisasies.
Klere, komberse, lakens, eetgerei, speelgoed, boeke, noem maar op! Jy kan dit alles neem na plekke wat dit broodnodig het, soos vroueklinieke, nagskuilings en biblioteke.
- Maak ’n bydrae om Kersgeskenke aan kinders uit te deel.
Suid-Afrika stoei met ongeletterdheid en kinders se swak leesvaardighede. Die rede hiervoor is dat so baie kinders nie toegang tot leesmateriaal het nie. Hierdie Kersfees kan jy help om boeke uit te deel aan kinders wat dit so baie sal waardeer.
Dit is maklik om ’n verskil te maak! Gee ’n bydrae aan Bybel-Media se KinderKersKous-projek waardeur sakke gevul met Bybelse kinderprodukte aan kinders oor die hele Suid-Afrika uitgedeel word. Dis ’n fantastiese manier om ’n blywende impak op jong kinders se lewe te maak.
Met hierdie projek wil Bybel-Media kinders en jongmense in die feestyd met geestelike boeke bederf om hulle geloof te versterk, hulle lees-met-begrip-vermoë te ontwikkel én hulle geestelike groei te ondersteun. Jy kan betrokke raak! Klik hier om meer uit te vind.
- Koop kruideniersware vir mense wat dit nie kan bekostig nie.
Het jy geweet dat jy met Checkers se Sixty60-app vir mense ’n hele Kersfees-hamper kan laat aflewer? So ’n hamper bevat al die basiese noodsaaklikhede wat families in Desember sal nodig kry. Jy kan dit vinnig met jou selfoon bestel en so ’n enorme verskil in mense se lewe maak.
Jy kan ook vir jou bure, familie of vriende in nood sakke vol kruideniersware koop en dit by hulle laat aflewer. Wys so dat jy omgee vir jou mense, veral wanneer hulle dit die nodigste het.
- Wees vrygewiger met jou tips.
Daar is baie mense wat in die Kerstyd moet werk. Dit sluit onder andere kelners, petroljoggies en supermark-werknemers in. Jy kan help om hulle Kersfees vroliker te maak deur vrygewiger te wees met jou tips.
Groter tips sit ’n ekstra paar rand in hulle sakke waarmee hulle Kersgeskenke kan koop en die feestyd mee kan geniet.
- Bemoedig mense in aftreeoorde met boeke.
Daar is mense in aftreeoorde wat in die Kerstyd alleen is. Jy kan ’n verskil in hulle lewe maak deur by hulle te gaan kuier.
As dit nie vir jou moontlik is nie, kan jy altyd help om vir bejaardes gratis boeke te laat aflewer. Met Bybel-Media se BybelBoekBokse-projek kan jy uitreik na mense in aftreeoorde, tehuise en versorgingsoorde deur vir hulle bokse vol Bybelse leesstof te stuur. Hierdie boeke sal vir hulle die geestelike vertroosting bring waarna hulle smag.
Dis so maklik! Al wat jy hoef te doen is om die koerierkoste van R99 te betaal. Bybel-Media sal dan ’n boks gratis boeke stuur aan die aftreeoord van jou keuse. Klik hier om meer uit te vind.
Jy is die verskil!
Sien jy? Dis makliker as wat jy gedink het om hierdie Kersfees ’n verskil te maak.
Is jy op soek na nog idees? Ondersteun Bybel-Media se projekte!
Met ’n klein finansiële bydrae kan jy mense in hierdie Kersseisoen met God se Woord bemoedig. Elke bydrae help ons om Bybelse produkte by aftreeoorde, kinderhuise, speelskole, en so meer, uit te deel.
Wat ’n maklike en impakvolle manier om hierdie Kersfees terug te gee aan jou gemeenskap. Begin nou ’n verskil in iemand se lewe maak!