Lees ons volledige Inspirasie-reeks vir Januarie deur kopieskrywer Fourie Rossouw hieronder:
Soesji
In die jaar 1824 het die Japanees Yohei Hanaya die heel eerste soesjirolletjie gemaak. Hy het ’n klein straatrestaurantjie gehad waar hy die tradisionele visgeregte verkoop het wat so eie aan die Oosterse kultuur van daardie tyd was. Hierdie disse het egter lank gevat om te maak omdat dit ’n lang fermentasieproses behels het. Sy klante sou verskeie kere op die dag by sy winkeltjie aankom net om te hoor dat die fermentasie nog nie afgehandel is nie. Op ’n dag, ten aanskoue van ’n paar ongeduldige klante, vat hy toe sommer die halfgefermenteerde rys, rol dit in bolletjies en plak ’n stukkies rou vis daarop! En siedaar, die heel eerste soesji-nigiri is gemaak. Dit was ’n groot treffer en binne 20 jaar het daar duisende sulke klein soesji-restaurantjies oral in Japan oopgemaak.
’n Kenmerk van sulke eetplekkies was die oulike gordyntjies wat by die ingang gehang het – elke winkel s’n was uniek. In daardie jare het mense wat soesji op straat gekoop het, hulle nie so baie gesteur aan higiëne soos ons vandag sou nie. So wanneer hulle klaar die soesji geëet het, het hulle sommer hulle hande aan die gordyntjies afgevee.
So, sê nou maar jy het in die straat geloop en was lus vir soesji en jy sien al daardie baie winkeltjies. By watter een moes jy ingaan? Watter een se soesji was die beste? Jy kyk na die gordyntjie. Een met baie vingermerke was gelyk aan soesji wat geproe het soos nóg.
So is dit ook met ons. Lewe met smaak en laat jou impak die praatwerk doen.
Sela.
Boerbeskuit
In die middel van Antjie Krog se boek “Begging to Be Black” deel sy haar ma se boerbeskuitresep. Sy doen dit uit die bloute en teen alle verwagtinge van die boek! Op daardie tydstip bevind sy en die leser mekaar in Duitsland waar sy wroeg en worstel met haar Suid-Afrikaanse identiteit te midde van ’n wêreld waar alles werk en alles so aanloklik lyk. Sy laat jou wonder oor jou eie gewortelheid in Afrika terwyl jy hunker na lande, kulture en mense wat ver verwyderd leef van die alledaagse uitdagings wat die gemiddelde Suid-Afrikaner in die gesig staar. Sy los jou met ’n gevoel van in-twee-geskeurde-alleenheid.
G’n wonder dat, toe sy haar in daardie vreemde-bekende bevind , het sy aan haar ma se kos en veral iets so eie aan Suid-Afrika soos boerbeskuit gedink. En dan onthou sy hoe haar ma op ’n dag aangekondig het: “My plantjie is dood.” Die ding van boerbeskuit, soos met ’n goeie suurdeegbrood, is dat dit nie met winkelgis gemaak word nie. Jy benodig ’n magiese mengsel van gis en bakterieë wat gekweek word en gemeng word met gelyke hoeveelhede water en meel. Wanneer dit eers aan gang is, word dit ’n onuitputlike bron van lewe, amper soos die weduwee se kruik.
Mits jy aanhou bak.
Sodra jy uit die ritme van meng, knie, rus, rys, bak en eet val, begin jou plantjie se lewenskrag kwyn. En soos dit mos maar gaan, kom die regte lewe té dikwels tussen jou en die dinge wat vir jou van waarde is. Dinge soos beurtkrag, die kinders se skoolwerk, finansiële jaareindes, Netflix, vergeetagtigheid, kitskos, winkelbrood en jou standaardhuweliksprobleme is soos slakke in ’n groentetuin wat jou plantjie se voortbestaan bedreig.
Nadat Ou Tannie Krog besef het haar plantjie het gedood het sy, volgens Antjie, onmiddellik gestap na haar buurvrou. En miskien is dít die eintlike boeretroos waarna sy gehunker het. Dié ding dat ons vir mekaar omgee. In mekaar se lewens verweef is. Na mekaar oorloop as die lewe by ons uitloop.
Sela.
Braai
My swaer het by my suster geleer om te braai en niemand in ons familie het gedink dit is vreemd nie. Nie eens my pa het ’n wenkbrou gelig nie en hy was ’n meesterbraaier wat dikwels vir honderde mense skaap gespit het. Ons grootwordhuis was ’n braaihuis en my swaer s’n nie. Vir die eerste paar jaar van hulle verhouding het sy die braaiwerk gedoen. Sy het hom geleer hoe om die hout te pak, die vleis te marineer en te sorg dat die kaas op die braaibroodjies behoorlik gesmelt is sonder dat die buitekante swart gebrand is. Toe byt die gogga hom en nou kry niemand hom voor die rooster weg nie. Nodeloos om te noem lyk hulle braaie anders as by baie ander huise. As my suster jou nooi vir ’n braai kuier almal by die braai. By haar is daar nie ’n ding soos vrouens wat kloek in die kombuis terwyl die mans in die lapa ’n bietjie ball chat nie. Sy chat saam terwyl my swaer die hoender ontbeen.
Ek hou daarvan om by hulle te braai. En jy sal ook.
Want ek het nog altyd geglo dat die braai ’n plek vir ontmoetings is. Dit gaan oor meer as net eet. Dis ’n plek vir gesprek, vir humor, vir erns, vir mentorskap, vir vriendskap oor grense heen en die oordrag van waardes tussen generasies. Daarom is die braai, die kombuis en die leefkamer in ons huis een plek. Dis ook die middelpunt van ons huis. Daar speel ons lewe uit tussen braaibroodjies en skoolbroodjies, tussen vuurpraatjies en ontbytsake, tussen warm kole en leftovers, tussen Lego en burgers bou, tussen legkaart en kameeldoring pak.
Ek reken eendag gaan my dogter vir haar aanstaande ook leer hoe om te braai. Ek hoop ons lewe dan al in ’n wêreld waar niemand sal dink dis vreemd nie.
Sela.