Deur LiG-redaksie
“Die liedjie wat my elke dag hoop gee is ‘Voel jy die genade’. Ek (is) net ’n karwag en loop elke dag 5 km en ja, dis net genade dat ek nog lewe. Dankie vir jou sterk geloof wat jy met ons deel.”
So het Charmaine van der Walt, ’n karwag van Durban, KwaZulu-Natal, op Facebook geantwoord nadat die kunstenaar Jo Black aan sy Facebook-volgers gevra het watter van sy liedjies hulle gunsteling is.
Jo Black het Charmaine bemoedigend geantwoord: “Jy is nie net ’n karwag nie, Charmaine – jy is ’n volwaardige Koningskind. Ons almal het ons plek om vol te staan. Maak ’n verskil net daar. Dankie dat jy saam luister na my musiek.”
Jo Black se antwoord het baie ander kommentaar uitgelok. Riki Ferreira van Pretoria-Wes het met Charmaine se liedjie-keuse saamgestem en geskryf: “Ek love dit dat jy haar (Charmaine) so mooi antwoord. Dis alles so waar. Ongeag ons kleur, status of geleerdheid. Ons is een en dieselfde vir God.”