Khume Ramulifho, provinsiale DA-woordvoerder oor onderwys, het Sondag gesê dat die veiligheid van leerders en onderwysers in Gautengse skole in gevaar gestel is, aangesien agt leerders en ’n skoolhoof die afgelope vyf jaar binne die skoolterrein vermoor is.
Daar is 40 messteekplekke, 10 skietvoorvalle en 16 geweldsmisdade, waarby leerders en onderwysers betrokke was, in Gauteng aangemeld.
“Dit is skokkend en ’n duidelike aanduiding dat die lewens van onskuldige mense in gevaar is, maar tog word daar nie veel gedoen om veiligheidsmaatreëls by ons skole te verskerp nie,” sê Ramulifho.
Dié inligting is deur die Gautengse LUR vir onderwys, LUR Matome Chiloane, onthul in ’n skriftelike antwoord op die DA se vrae wat in die Gautengse provinsiale wetgewer (GPL) ter tafel gelê is.
Daar was 26 voorvalle as gevolg van bendelede. Boonop het 45 voorvalle voorgekom as gevolg van leerder-op-leerder-geweld, een weens onderwyser-tot-onderwyser-geweld, ses weens leerder-op-onderwyser-geweld, en vier voorvalle as gevolg van onderwyser-op-leerder-geweld. Buitestanders het ook agt leerders en vier onderwysers vermoor.
In totaal was daar die afgelope vyf jaar 94 voorvalle van geweldsmisdade in Gautengse skole.
“Dit dui daarop dat ons skole onveilig is, en daar is ’n dringende behoefte om die huidige skool se veiligheidstrategie te hersien aangesien daar geen verbetering was nie,” meen Ramulifho.
“Boonop is daar tot op hede slegs een skuldigbevinding deur die departement bekend rakende hierdie sake. Sommige sake is egter nie opgelos nie, weens ’n gebrek aan bewyse, en sommige is steeds aan die gang,” voeg Ramulifho by.
“Die skuldigbevindingskoers is laag en kommerwekkend aangesien dit wys dat die regstelsel ons onderwysers en leerders in die steek laat. Daar is ’n dringende behoefte aan deeglike ondersoeke oor hierdie sake om te verseker dat hulle op die hofrol kom.”
Die DA stel voor dat LUR Chiloane die Gautengse LUR vir Gemeenskapsveiligheid en Sekuriteit, Faith Mazibuko, betrek om te verseker dat skoolveiligheid vooropgestel word en hierdie voorvalle word ondersoek om geregtigheid vir die slagoffers en hul gesinne te verseker.
Die DA eis dat die departement die Gautengse skole se veiligheidstrategie hersien en verseker dat alle belanghebbendes betrokke is by die formulering van nuwe maniere om geweld in ons skole hok te slaan.
“Onderwys is ’n maatskaplike kwessie, en gemeenskappe moet betrek word om te verseker dat ons skole veilige plekke vir leerders en onderwysers is,” sluit Ramulifho af.