“Oor die afgelope twee dekades het die persentasie vrouestudente aan die Universiteit Stellenbosch (US) stadigaan toegeneem tot waar dit tans op sowat 58% van die totale voorgraadse studentepopulasie staan,” sê Martin Viljoen, woordvoerder van die Universiteit Stellenbosch, in ’n verklaring.
“Om vir hierdie toenemende poel vrouestudente voorsiening te maak, gaan die instelling die aantal plekke wat vir vrouestudente in sy koshuise gereserveer is, aanpas. Die eerstejaar-aansoekpoel – om in voorgraadse koshuise geakkommodeer te word – het ongeveer 62% (9 000) vroue en 38% mans (5 300) vir die 2023 akademiese jaar uitgemaak. Dit was die neiging oor die laaste paar innamejare.”
Wat belangrik is, is dat meer vrouestudente wat inrigtings van hoër onderwys betree, ook ‘n nasionale en internasionale tendens is.
“By ‘n onlangse vergadering van die Rektoraat is besluit om die koshuisplekke vir vroulike studente te verhoog tot 60% van die beskikbare plekke in koshuise op die Stellenbosch-kampus – vanaf 2024. Die huidige verspreiding op die Stellenbosch-kampus vir voorgraadse koshuise is 48% toegeken vir mans en 52% vir vroue, wat potensiële vrouekandidate benadeel as dit in die konteks van die totale voorgraadse studentepopulasie beskou word. In totaal het die Universiteit ongeveer 5 500 beddens beskikbaar in voorgraadse koshuise op die Stellenbosch-kampus – 48% vir mans en 52% vir vroue. In die praktyk impliseer dit dat ‘n vroulike aansoeker wat oorweeg word vir koshuisplasing in die akademiese kategorie, ongeveer 85% vir plasing moet behaal, terwyl haar manlike eweknie tydens die eerste plasingsrondte met ‘n punt van ongeveer 80% geplaas sal word,” sê Viljoen.
Die besonderhede van die hertoedeling is nog nie vasgestel nie.
“Die Studentegemeenskap-advieskomitee, onder voorsitterskap van prof Deresh Ramjugermath, Viserektor: Leer en Onderrig, het ‘n werkgroep onder leiding van dr Choice Makhetha, Senior Direkteur: Studentesake, aangestel om voorstelle te formuleer vir die implementering van die Rektoraatsbesluit van die 60/40 koshuisplasing in 2024. Die komitee bestaan uit verteenwoordigers van Studentegemeenskappe, Studenteverblyf, Fasiliteitsbestuur, SunCom (“kommersiële dienste”) en die Prim-komitee.”
As deel van die proses het die Sentrum vir Studentegemeenskappe studenteleiers ingelig oor die besluit wat geneem is en dat die proses aan die gang is.
Lees ook: