Universiteitstudente aan die Universiteit Stellenbosch (US) het die afgelope week AfriNUUS gekontak nadat primariusse en superintendente van die universiteit se manskoshuise deur Pieter Kloppers, hoof van die sentrum vir studentegemeenskappe, ingelig is dat vier manskoshuise vanaf volgende jaar ook vrouestudente sal akkommodeer.
Die koshuise sluit Helshoogte, Huis Marais, Huis Visser en Dagbreek in, volgens twee primariusse met wie AfriNUUS in kontak was.
’n Universiteitstudent het aan AfriNUUS gesê dat die impak van die besluit sal beteken dat die tradisies van die koshuise vernietig sal word, en dat die koshuise meer soos “gemengde woonstelblokke” sal word.
“Ons weet dat daar beplan word om teen 2024 reeds ‘n verandering in koshuise te bewerkstellig vir die nuwelinge wat dan intrek,” het ‘n primarius aan AfriNUUS gesê wat versoek het dat sy naam nie genoem word nie om vooroordeel te voorkom.
“Ek kan dit bevestig dat die vier manskoshuise oorweeg word. Ek glo die koshuise is genoem omdat die infrastruktuur dit maklik moontlik maak om te omskep. Ek weet egter nie of dit die enigste rede is nie,” het die primarius bevestig.
“My ervaring in die universiteit is dat hulle baie sal doen om wel ontslae te raak van die tradisies. Ons koshuis is egter op tradisies en waardes gebou en ons weier om dit net weg te gooi.”
AfriNUUS verneem dat die stap volg as deel van die instelling van die omstrede Khampepe-verslag se bevindinge, wat die DA verwerp.
’n WhatsApp-boodskap wat versprei is deur die primarius van een van die koshuise het AfriNUUS onder oë gehad.
In die boodskap verduidelik die primarius dat die manskoshuis-bestuur op 7 Maart genooi is na ’n vergadering om mansgemeenskappe in te lig oor die rektoraat se besluit om sekere “manskoshuise” in “vrouekoshuise” te verdeel.
Die besluit is nie by die universiteitsraad bespreek nie, volgens die DA, maar dit sal teen die einde van die eerste semester afgehandel word.
Dr. Leon Schreiber, DA verkiesingshoof in Stellenbosch, het aan AfriNUUS bevestig: “Die Universiteit Stellenbosch-bestuur se optrede in hierdie geval is presies waarom baie mense – en ’n aantal US-raadslede soos ek self – nie vertroue het in die bestuur nie. Daar was verlede Sondag ’n raadsvergadering waar die bestuur juis gekla het oor hierdie vertrouensbreuk. Maar net drie dae later, gaan tree hulle weereens eensydig op oor ’n saak wat die Stellenbosch gemeenskap diep raak.”
“Wat ons verder hier sien is die eerste praktiese gevolg van die Khampepe-verslag, wat nie die papier werd is waarop dit geskryf is nie, want dit is gegrond op slegs 22 voorleggings uit die 32 000 studente aan die US. Dit lyk al hoe meer asof die verslag met voorbedagde rade opgestel is om finaal weg te doen met alles wat van die Universiteit Stellenbosch die unieke en besondere plek maak wat dit is.”
Martin Viljoen, woordvoerder van die US, het aan AfriNUUS gesê: “Daar is tydens ‘n gesprek voorbeelde genoem van koshuise waar, vanuit ‘n logistieke oogpunt, die minste konstruksie hoef plaas te vind om ook vroue te huisves.
“Daar is egter nog geen besluite geneem oor ‘n moontlike hertoedeling nie – ook nie of en by hoeveel manskoshuise daar ‘n hertoedeling gaan plaasvind nie.”
Viljoen sê verder dat US-koshuise groter aantal vrouestudente gaan akkommodeer.
In ‘n verklaring sê Viljoen:
Oor die afgelope twee dekades het die persentasie vrouestudente aan die Universiteit Stellenbosch (US) stadigaan toegeneem tot waar dit tans op sowat 58% van die totale voorgraadse studentepopulasie staan. Om vir hierdie toenemende poel vrouestudente voorsiening te maak, gaan die instelling die aantal plekke wat vir vrouestudente in sy koshuise gereserveer is, aanpas. Die eerstejaar-aansoekpoel – om in voorgraadse koshuise geakkommodeer te word – het ongeveer 62% (9 000) vroue en 38% mans (5 300) vir die 2023 akademiese jaar uitgemaak. Dit was die neiging oor die laaste paar innamejare.
Wat belangrik is, is dat meer vrouestudente wat inrigtings van hoër onderwys betree, ook ‘n nasionale en internasionale tendens is.
By ‘n onlangse vergadering van die Rektoraat is besluit om die koshuisplekke vir vroulike studente te verhoog tot 60% van die beskikbare plekke in koshuise op die Stellenbosch-kampus – vanaf 2024. Die huidige verspreiding op die Stellenbosch-kampus vir voorgraadse koshuise is 48% toegeken vir mans en 52% vir vroue, wat potensiële vrouekandidate benadeel as dit in die konteks van die totale voorgraadse studentepopulasie beskou word. In totaal het die Universiteit ongeveer 5 500 beddens beskikbaar in voorgraadse koshuise op die Stellenbosch-kampus – 48% vir mans en 52% vir vroue. In die praktyk impliseer dit dat ‘n vroulike aansoeker wat oorweeg word vir koshuisplasing in die akademiese kategorie, ongeveer 85% vir plasing moet behaal, terwyl haar manlike eweknie tydens die eerste plasingsrondte met ‘n punt van ongeveer 80% geplaas sal word.
Die besonderhede van die hertoedeling is nog nie vasgestel nie. Die Studentegemeenskap-advieskomitee, onder voorsitterskap van prof Deresh Ramjugermath, Viserektor: Leer en Onderrig, het ‘n werkgroep onder leiding van dr Choice Makhetha, Senior Direkteur: Studentesake, aangestel om voorstelle te formuleer vir die implementering van die Rektoraatsbesluit van die 60/40 koshuisplasing in 2024. Die komitee bestaan uit verteenwoordigers van Studentegemeenskappe, Studenteverblyf, Fasiliteitsbestuur, SunCom (“kommersiële dienste”) en die Prim-komitee.
As deel van die proses het die Sentrum vir Studentegemeenskappe studenteleiers ingelig oor die besluit wat geneem is en dat die proses aan die gang is.
Lees ook: