Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en departement van onderwys in die Oos-Kaap ondersoek bewerings dat ’n 13-jarige skoolseun van Jeffreysbaai tydens ’n skoolkamp in Oudtshoorn, in die Wes-Kaap, seksueel deur medeleerders aangerand is.
Die voorval het na bewering op ’n graad 7-kamp by ‘n oord in Oudtshoorn tussen 28 Februarie en 2 Maart plaasgevind.
Chris Spies, polisiewoordvoerder in die Suid-Kaap, het aan AfriNUUS bevestig dat die eenheid vir gesinsgeweld, seksuele oortredings en kinderbeskerming (GBV) in Oudtshoorn ’n saak van verkragting ondersoek. Nog niemand is in verband met die voorval in hegtenis geneem nie, maar die saak is in ‘n gevorderde stadium.
Mali Mtima, woordvoerder van die departement van onderwys in die Oos-Kaap, het by navraag bevestig dat drie leerders (tussen 12 jaar en 13 jaar) voorlopig geskors is, terwyl dissiplinêre prosesse voortgaan.
Volgens HeraldLIVE – Nelson Mandela Bay het die betrokke leerders Woensdag voor ‘n dissiplinêre komitee verskyn.
Die laerskool se naam is aan AfriNUUS bekend. Ons het besluit om dit te weerhou.