Verlede week het Statistieke Suid-Afrika (StatsSA) ’n ontstellende 7,1%-verhoging in inflasie bekend gemaak. ’n Nadere ondersoek van die getalle ontbloot ’n veel meer ontstellende werklikheid: voedselpryse het selfs meer gestyg, en die voedselpryskrisis duur onverpoosd voort.
Die Essential Food Pricing Monitoring (EFPM)-verslag wat gister uitgereik is, staaf dit en beklemtoon dat basiese en noodsaaklike voedselitems die afgelope jaar skerp prysstygings beleef het. Die ondersoek het die pryse van noodsaaklike voedselprodukte soos brood, kookolies, mieliemeel, rys, meel, margarien en pasta op kleinhandel- en groothandelvlakke onder die loep geneem.
Van Januarie tot Desember 2022 het wit- en bruinbrood-kleinhandelpryse met onderskeidelik 20% en 19% gestyg. Die prys van mieliemeel het met 32% gestyg en van R26,62 tot R35,29 gespring. Hierdie skerp prysstygings het arm en kwesbare Suid-Afrikaners die hardste getref.
“Die opwaartse stygende lewenskoste is die direkte gevolg van die ANC se onsamehangende ekonomiese beleid wat ekonomiese groei belemmer. In tye van inflasie is markvriendelike fiskale beleid nodig om die impak van stygende pryse te demp, maar die regering gaan voort om die lewenskostekrisis te verwaarloos, of selfs te noem,” sê Dr Dion George, DA-woordvoerder oor finansies.
“Terwyl daar verseker word dat daar geen samespanning en manipulasie deur kleinhandelaars en produsente is nie, moet die Suid-Afrikaanse regering die infrastruktuur verskaf wat nodig is vir besighede om te floreer. Die ANC-regering het in hierdie opsig gefaal, aangesien voedselinflasie steeds hoog is en beurtkrag steeds sakebedrywighede ontwrig. Dit is die gevolge van ’n regering wat misluk het in die implementering van ’n doeltreffende fiskale beleid, en hierdie mislukking is ’n beduidende bydraer tot hoë voedselkoste.”