Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het aangekondig dat dit met sy voorlopige inkomste-invorderingsresultate vir die 2022/2023-boekjaar ’n beduidende groeitrajek oor die afgelope paar jaar weerspieël het.
“Die inkomste wat jaarliks ingesamel word, verskaf 90% van staatsbefondsing, wat die SAID se belangrike rol aandui in die verskaffing van die hulpbronne wat die regering kan gebruik vir die heropbou en herstel van die Suid-Afrikaanse ekonomie, asook om by te dra tot die langtermyn-welvaart van ons nasie,” sê SAID-kommissaris, Edward Kieswetter.
Teen middernag op 31 Maart 2023 het die SAID ’n rekord bruto bedrag van R2067,8 miljard ingesamel. Die netto invordering ná betaling van R381,1 miljard aan terugbetalings is R1 686,7 miljard. Dit is die eerste keer sedert die SAID tot stand gekom het dat Jan Taks meer as R2 068 miljard ingesamel het. Die bedrag wat in terugbetalings betaal is, is ook die grootste wat nog betaal is sedert die stigting daarvan.
Die 2023 bruto bedrag verteenwoordig ’n verhoging van 9,7% teenoor die 2022-invordering van R1 884,9 miljard, terwyl die terugbetalings wat vir 2023 betaal is, ’n verhoging van 18,7% is bo die 2022-bedrag van R321,1 miljard. Die 2023-inkomste wat ingesamel is, verteenwoordig ’n toename van 7,9% op ’n jaargrondslag bo die netto 2022-bedrag van R1 563,8 miljard.
“Die netto bedrag van R1 687 miljard moet gesien word teen die 2021/22-uitkoms van R1 568 miljard, wat ’n jaar-tot-jaar toename van R123 miljard verteenwoordig.”
Soos die Minister van Finansies, Enoch Godongwana, in sy 2023-begrotingstoespraak gesê het: “Ons land pluk die voordele van ’n meer doeltreffende belastingadministrasie, wat vertroue bou om vrywillige nakoming te verhoog en inkomste-invorderings te bevorder.”
In vergelyking met die 2022-inkomste-uitkoms is groei in alle belastingtipes aangeteken. Persoonlike inkomstebelasting (PIT) het met 8,3% tot R601,7 miljard gegroei, maatskappy-inkomstebelasting (CIT) het met 7,6% tot R348,0 miljard gegroei, Belasting op Toegevoegde Waarde (BTW) het met 8,0% tot R422,2 miljard gegroei en Doeane en ander belastings het gegroei met 27,4% tot R73,9 miljard.
Nakomingsinkomste, as gevolg van geteikende ingrypings oor alle segmente van belastingbetalers, het R227 miljard aan inkomste opgelewer, vergeleke met verlede jaar se syfer van R215,4 miljard. Hierdie ingrypings sluit in gefokusde skuldinvordering, ’n fokus op kriminele en onwettige aktiwiteite en verklaringsnakoming onder onder andere groot besighede.
Lees gerus die syfers hieronder:
2022_23-SARS-Revenue-Slides-for-FYE-Announcement