Bobby van Jaarsveld (36) het op Dinsdag op Facebook bevestig dat “hy en sy band op pad is na die KKNK.” Dit volg nadat ’n voël wat in die enjin van een van FlySafair se vliegtuie beland het, sy vlug van Johannesburg na George vertraag het.
Dit het egter nie die sanger en sy groep gekeer om dié aand op die verhoog in Oudtshoorn te verskyn nie.
“Vroeg [Dinsdag]oggend het ons uit Durban gevlieg en toe klim ons op die vlug van Johannesburg na George …. En daar gebeur dit,” skryf van Jaarsveld.
“Ons het ons [gister]oggend tydens die vlug oppad na George ’n “Bird strike” gehad en toe moes ons omdraai terug na Johannesburg toe met een engin. Ek is nou al vandag 9 ure lank op die lughawe so toe drink ek maar ’n bier of 8,” skerts van Jaarsveld.
Gisteraand se vertoning in Oudtshoorn by die Castle-verhoog is na 21:00 uitgeskuif en nie meer 18:30 nie.