’n Hoër Jongenskool Paarl-rugbyspeler veg om sy lewe nadat hy vroeër die week ’n kopbesering in ’n rugbywedstryd opgedoen het.
Die 17-jarige leerling, Chris Jordaan, is in die intensiewe sorgeenheid (ICU) ná die voorval Dinsdagaand teen Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) by ’n rugbywedstryd in Pretoria.
“Die Boishaai-familie is erg geskok na Dinsdagaand se fratsongeluk tydens die 1ste span wedstryd. HJS dra vir Chris Jordaan, sy familie en maats op in ons gebede. Ons glo en vertrou dat hy spoedig sal herstel. Boishaai bedank ook almal vir hulle ondersteuning,” het die skool op Facebook geskryf.
Jordaan is na die hospitaal gehaas, waar hy onmiddellik vir ’n operasie geneem is nadat hy bloeding aan die brein opgedoen het.
AfriNUUS verneem hy is tans in ’n stabiele toestand in die Mediclinic Muelmed in Pretoria.