In die eerste episode van AfriNUUS se nuwe nuusprogram, In Gesprek Met AfriNUUS, fokus ons op Theuns du Toit, ’n voormalige Universiteit Stellenbosch-student, wat terugkyk op die gebeure nadat hy bykans ’n jaar gelede uit die tersiêre instelling geskors is, omdat hy op sy koshuismaat se besittings geürineer het.
Theuns du Toit, sy pa, Rudi du Toit en regsverteenwoordiger, Dirk van Niekerk, maak hul harte oop oor die urineer-voorval in Stellenbosch verlede jaar wat ’n wydverspreide rasse-herrie tot gevolg gehad het.
Verlede jaar het dié voorval in ’n mediastorm ontaard, waar een kant van die storie vertel is. Ons wou egter by die du Toit-gesin uitvind wat die impak van die gebeurtenis op hul gesin gehad het.
Die du Toit-gesin praat in die eksklusiewe onderhoud met AfriNUUS se redakteur, Hein Boshoff, onder meer oor die gebeure wat hul gesin die afgelope jaar deurgemaak het, insluitend doodsdreigemente en dreigbriewe wat hulle ontvang het en waarom Theuns homself tot die hooggeregshof in Kaapstad gewend het in ’n poging om sy skorsing uit die universiteit om te keer.
Dit volg nadat die Universiteit Stellenbosch (US) du Toit laasjaar skuldig bevind het aan rassisme en hom uit die universiteit en Huis Marais-manskoshuis geskors het.
Du Toit voer egter aan dat daar ’n voorbeeld van hom gemaak is, maar dat hy wil aanbeweeg nadat hy vrede gemaak het met sy koshuismaat en ’n tweede kans gegun wil word om sy lewensdroom na te streef deur ’n regsgeleerde te word.
Theuns du Toit se regsverteenwoordiger in die hof sal die bekende adv. Jan Heunis, voorsitter van die US-konvokasie (‘n liggaam vir oudstudente) en lid van die universiteitsraad, wees.
Die omstrede voorval het Sondag, 15 Mei 2022, in die vroeë oggendure plaasgevind. AfriNUUS het op Woensdag, 22 Maart 2023, met die gesin ’n onderhoud gevoer, waarin ons talle vrae aan die betrokke partye gerig het.
Die gesin het die volgende bankbesonderhede verskaf vir Theuns se regskostes: Geregtigheid vir Theuns, GVTSTELL, Capitec, Spaarrekening, Rekeningnommer: 2078529660, Takkode: 470010.
Daar is tans meer as R220 000 ingesamel.
Nota: Die mening van die betrokke partye is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van AfriNUUS nie.
Video-redigering: Robert Cable / AfriNUUS