Die lewe is kort, jy moet jou bolla los maak en die aand saam met jou vriende geniet!
Dít is die boodskap van die musiekduo Klawer se splinternuwe enkelsnit, Skade Maak.
Klawer is ʼn musiekduo wat gevorm is deur die sussies, donkerkop Inge en blondekop Martinique.
Hul nuutste enkelsnit, Skade Maak, gaan sommer vinnig aanklank vind met die polsende ritme
van dié popliedjie en is uit die pen van deur Roux Cloete.
Dié liedjie handel oor ʼn aand uit waar die dorp bloedrooi geverf word en is ʼn goedvoel-liedjie
waarop daar lekker gesokkie kan word.
“Ons hoop mense maak hierdie sommer hul amptelike uitgaan liedjie,” is hulle dit eens.
Die musiekvideo vir Skade Maak is in Somerset-Wes by die kuierplek Harley’s on Main verfilm.
Johan Latsky van Latsky Multimedia het die vervaardiging behartig.
Klawer is die afgelope ses jaar betrokke in die musiekbedry en die sussies Inge en Martinique
erken dat musiek die anker van hul lewens is en hulle reeds van vroeg af die konneksie deur
musiek gehad het.
Hulle is in die Paarl in die Wes-Kaap gebore en getoë en woon tans in Somerset-Wes.
“Ons het al van kleins af musiek gemaak en opgtree vir almla wat wil ky,” het Inge vertel.
“Ons het ook sommer die bure se kinders met huiskonserte vermaak,” het Martinique bygevoeg.
Hulle ouers het van kleins af belê in klavier- en kitaarlesse vir die twee ontluikende musikante en
ook die dogters ingeskryf vir sangkompetisies.
Nadat hulle studies voltooi is, het hulle besluit om weer voltyds musiek te maak.
Albei het intussen in Somerset-Wes wortel geskiet en woon tans sowat vyf minute weg van
mekaar. Hulle sien mekaar daagliks en elke week word daar tyd gemaak om saam musiek te
maak.
Inge is ook ʼn fiksheidsinstruktrise en Martinique behartig die groep se administrasie en hou ook
van skilder en binnehuisversiering.
Die duo beskryf hulle stemme as sout en peper – totaal verskillend, maar vul mekaar perfek aan.