Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) en sy Covid-19-entstofvennoot, Gavi, het geen onmiddellike planne om COVID-19-entstowwe te koop wat deur die Aspen-aanleg in Gqeberha vervaardig word nie.
Só het die twee organisasies vandag gesê.
Aspen het in Maart ‘n ooreenkoms aangegaan om Johnson & Johnson se entstowwe te verpak, te verkoop en te versprei. Die fabriek het egter nog geen versoeke vir aankope ontvang nie, wat vrees laat ontstaan het dat die aanleg kan sluit.
Die HUB van Aspen, Stephen Saad, het verlede week gewaarsku dat hy gedwing sal word om ongeveer die helfte van sy entstofproduksiekapasiteit te hergebruik as bestellings nie optel nie.
COVAX – die wêreldwye COVID-19-entstofdeelprogram – het egter geen huidige planne om bestellings by Aspen te plaas nie, weens ooraanbod en ‘n afname in Covid-19-inentings oor die wêreld heen.
“In die geval van Aspen, beteken die huidige algehele vraagsituasie dat ons tans nie in ‘n posisie is om groot hoeveelhede entstowwe te koop nie,” het ‘n Gavi-woordvoerder aan Reuters gesê.
“Ons is egter in gesprek om te sien of ‘n samewerking haalbaar sou wees as deel van die uitbreiding in Afrika.”